Die Long Tom – ’n bielie van ’n kanon!

Een van die ZAR se Long Toms in die NZASM-werkplaas in Pretoria, gereed om weer na die gevegsfront geneem te word. Bron: Het Geheugen

Deur Ilze Nieuwoudt 

’n Bielie van ’n kanon met ’n loop van oor die vier meter het gedurende die Anglo-Boereoorlog die Britte laat sidder en behoorlik op hul neuse laat kyk. Die Long Tom, soos hierdie 155 mm-Creusot-kanonne bekendgestaan het, het sy plek dubbel en dwars in die geskiedenisboeke oor dié oorlog verdien.

Die Long Toms is uiteindelik met groot sukses in die oorlog gebruik, maar is nie oorspronklik vir die doel van veldslae aangekoop nie. Hierdie Frans-geproduseerde kanonne is oorspronklik reeds in 1886 na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ingevoer om as fortkanonne om die Boererepubliek se hoofstad, Pretoria, gebruik te word. Elkeen van die vier kanonne wat ingevoer is, het ’n staanplek gekry by die hoofstad se forte naamlik Klapperkop, Wonderboompoort, Schanskop en Daspoort.

Die Long Tom was in sy tyd uiters geskik as fortkanon, aangesien die kanon (as dit op die korrekte hoek geposisioneer was) ’n trefafstand van nagenoeg 9 km gehad het – ’n uitermatige prestasie as gereken word dat elkeen van die kanon se koeëls ’n reusagtige 42,6 kg geweeg het.

Met die uitbreek van die oorlog in 1899 het die ZAR se oorlogsraad die onkonvensionele besluit geneem om die vier kanonne in te span in die stryd. Logika sou sê dat hierdie kanonne geensins as veldkanonne geskik sou wees nie, veral as in berekening geneem word dat elke kanon nagenoeg ses ton geweeg het. Die loop alleen het 2,5 ton geweeg. Nietemin, ’n Boer maak ’n plan.

Selfs nie eens die ruwe landskap kon die Boere van hul planne om die Long Toms na die gevegsveld te neem, laat afsien nie. Op gelyke, gangbare paaie het dit tussen 12 en 14 osse geneem om die Long Toms te skuif, terwyl enige opdraandes en moeiliker roetes ’n verdere minstens ses osse benodig het. Hoewel die kanonne oorspronklik aan die begin van die oorlog sover moontlik met treine vervoer is, is dit later hoofsaaklik met waens en osse gedoen.

’n Verdere struikelblok was die feit dat hierdie kanonne steeds van swartkruit gebruik gemaak het. Die wit rookwolk wat met elke skoot die lug in gestyg het, het ongelukkig die Boere se groot kanonne se posisie verklap. Volgens oorlewering het dit tydens die beleg van Ladysmith sowat 30 sekondes geneem vandat die eerste wit wolkie gesien kon word totdat die koeël in sy bestemming neergeplunder het.

Harde werk, bloed en sweet is beslis onafskeidelik deel van die Long Toms. Daar is egter ook op ’n ligter noot verskeie unieke verwysings uit die oorlog na die kanonne gemaak. So byvoorbeeld was die kanon nie net doeltreffend as die Boere op die aanval was nie, maar ook op die terugval. Weens die enorme trefkrag van die kanon was dit noodsaaklik dat die kanon stewig gemonteer moes wees op spesiale plate. In een veldslag is dit egter nie gedoen nie en met die afvuur van die koeëls het dit die reusekanon elke slag 40 meter teruggeskiet.

Die legendariese Long Toms het elk met nagenoeg 8 000 rondes uit Frankryk gekom. Kort voor lank het hierdie voorraad egter opgedroog en omdat die invoer van verdere koeëls gedurende die oorlog deur die Britte onmoontlik gemaak is, is besluit om dié strydrosse te vernietig uit vrees dat dit in Britse hande sou beland. Daarom is die kanonne uiteindelik op onderskeidelik Komatipoort in September 1900, Letabadrift in Oktober 1900, Rietfontein buite Lydenburg in April 1901 en op Feeskop buite Haenertsburg ook in April 1901 vernietig.

Die legende van die Long Toms leef vandag nog voort in onder meer die naam van die asemrowende Long Tom-pas in Mpumalanga. ’n Replika van die Long Tom kan op die R37 sowat 21 km buite Sabie gesien word. Dié monument is in 1984 opgerig en bied ʼn unieke blik op die Long Tom – ’n ware bielie van ’n kanon!