Die lot van Kaapse rebelle

Hans Lötter, sy adjudant, Petrus Wolfaardt, en ’n groep Kaapse rebelle. Lötter en Wolfaardt is onder meer aan hoogverraad, moord en roof skuldig bevind en voor ’n vuurpeloton tereggestel. (GKSA-argief, Morné van Rooyen)

Ilze Nieuwoudt

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het nie net die lewe van die burgers in die Boererepublieke verander nie, maar ook sy tentakels tot in die Suid-Afrikaanse Britse kolonies laat strek. Hoewel die Boere in die republieke gehoop het op ’n grootskaalse opstand deur hul ondersteuners in die Kaap en Natal, het dit nie gebeur nie. Duisende het op verskeie maniere wel hul steun aan die Boere se oorlogspoging gebied en die hoogste prys daarvoor betaal. Die einde van die oorlog in Mei 1902 het boonop nie die einde van die Kaapse rebelle se probleme meegebring nie – talle veroordeelde rebelle sou jare later nog die las van hul verraad moes dra.

Rebelle neem die wapen op

Die uitbreek van die oorlog het in baie gevalle as’t ware families en vriende aan twee kante van die oorlog geplaas. Die historikus Fransjohan Pretorius meen dat hoewel Afrikaners in dié kolonies in die algemeen lojaal was aan die Britse kroon, het hul kulturele en politieke verwantskap met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Vrystaat hul ten gunste van die republikeinse onafhanklikheidstryd gestem. Kolonialers het dikwels hul steun gebied aan Boerekommando’s wat die Kaap binnegedring het en het onder meer kos en skuiling aan hulle gegee. Dit was uiteindelik dié wat aktief die wapen teen die Britse kroon opgeneem het wat die grootste risiko geloop het.

Gedurende die oorlog het Kaapse Boere in twee vlae by die Boeremagte aangesluit. Die eerste 10 000 het vroeg in die oorlog die wapen opgeneem en het merendeels uit distrikte naby die republieke se grense gekom. Teen Maart 1900 het talle rebelle teruggekeer huis toe en ’n verdere nagenoeg 3 000 het weer later die wapen teen die Britte opgeneem.

Die straf vir hoogverraad

Die risiko om as Britse onderdaan aan Boerekant te veg, was groot. Die Britte was genadeloos teenoor hoogverraad en uiteindelik is meer as 1 000 Kaapse rebelle tronkstraf opgelê, 360 is verban en 379 is ter dood veroordeel (waarvan 44 tereggestel is). Meer as 10 500 Kaapse rebelle het hul stemreg vir vyf jaar verloor, en in Natal was 409 rebelle skuldig bevind aan hoogverraad en een tereggestel.

Teregstellings was volgens Albert Blake, historikus en skrywer van Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog, besonder wreed. “Die vonnisopleggings en sekere teregstellings is in die openbaar uitgevoer. Die wreedheid daarvan is vererger deurdat plaaslike inwoners wat daarvan verdink is dat hulle die republikeinse saak goedgesind was, dit moes bywoon, anders is hulle gestraf. Selfs ’n pa moes die onmenslike foltering verduur om sy seun se teregstelling te beleef,” skryf Blake.    

Die einde van die oorlog

Die Vrede van Vereeniging het op 31 Mei 1902 ’n einde aan die oorlog gebring, maar vir die rebelle was die stryd nog lank nie oor nie. Die Boereleierskap het verantwoordelik gevoel vir die lot van hul “Koloniale broers” en het reeds sedert die eerste gesprekke oor vrede die amnestie vir dié rebelle as voorvereiste gestel.

In ’n studie deur P.W. Vorster in die vaktydskrif Historia, kom die Boere se morele verpligting jeens die rebelle se lot duidelik na vore. “Hoewel amnestie aan die Koloniale rebelle nie formeel op die vredesberaad bespreek kon word nie, was die Britse onderhandelaars en hul regering nietemin deeglik bewus van die belangrikheid daarvan vir die Boere-afgevaardigdes,” verduidelik Vorster.

’n Dokument met die amnestiebepalings wat aan Koloniale rebelle aangebied sou word, is op die laaste dag van vredesonderhandeling vir kennisname aan die Boere oorhandig. Op 11 Junie 1902 is Proklamasie 100 uitgereik wat regsgeldigheid aan dié dokument verleen het. J.B.M. Hertzog wat ná die oorlog as kampvegter vir die regte van die Kaapse rebelle opgetree het, het egter met ontsteltenis verneem dat die proklamasie afgewyk het van die inligting in die Pretoria-dokument. Dit het meegebring dat nagenoeg 700 aangehoudenes van die amnestievoordele uitgesluit sou word.

In die daaropvolgende maande het Hertzog toenemend druk op die Britse regering in die Kaap en Engeland geplaas en aangedring op die toekenning van amnestie aan die rebelle. Hertzog se werk het vrugte afgewerp, en op 21 Maart 1903 – nagenoeg tien maande nadat vrede gesluit is – is die laaste rebelle uit die Tokai-gevangenes vrygelaat. Volle amnestie is egter eers in 1906 aan hulle toegestaan toe hul volle burgerregte (insluitende stemreg) herstel is.

Die doodsvonnis word voor die Gereformeerde Kerk in Middelburg voor ’n skare mense uitgespreek oor die Kaapse rebelle kmdt. Hans Lötter en Petrus Wolfaardt.
Die doodsvonnis word voor die Gereformeerde Kerk in Middelburg voor ’n skare mense uitgespreek oor die Kaapse rebelle kmdt. Hans Lötter en Petrus Wolfaardt.