Die perderit tot by Paardeberg

Dinsdag 26 Junie 2018 (Dag 4)
Roete: Petrusburg tot Paardeberg
Afstand: 39,5 km

Die perderit tot by Paardeberg

Noem die naam Paardeberg en dié wat weet sal dadelik dink aan Cronjé en daardie droewige dag op 27 Februarie 1900. Sommige sal ook vir jou sê dat Paardeberg die eintlike plek is waar die Boere die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 verloor het.

Dit is juis hierheen wat die ruiters van Herdenkingsritte 2018 op 26 Junie 2018 reis. In Pieter de Jager se nuwe boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 word die slag soos volg opgesom:

Die Britse aanslag te Paardeberg, 17 tot 27 Februarie 1900

Vir generaal Cronjé was die nuwe Britse offensief ’n volkome verrassing. Sy posisies by Magersfontein het nou onhoudbaar geword en hy was verplig om dit onmiddellik te ontruim: “When Kimberley was relieved, the horses of Cronjé’s main force were captured by General French. His force retreated on foot with a large convoy of wagons with women and children.” As gevolg van die honderde waens, vroue en kinders wat saam met die kommando beweeg het, het die terugtog uiters langsaam verloop. Die ossewakonvooi kon ook slegs in ’n rigting beweeg waar water vir die honderde osse was – dus al langs die Modderrivier op.

Toe generaal French die tyding van Cronjé se bewegings kry, verlaat hy Kimberley dadelik en sit hom agterna om sy terugtog af te sny. Hy slaag daarin, omdat Cronjé met sy kommando nie die walaer alleen wou laat nie en die konvooi dus tydsaam beweeg het. Cronjé, sy hele mag en die laer is gevolglik omsingel – voor deur die kavallerie en agter deur die infanterie. De la Rey en sy kommando’s was in daardie stadium voor die Britse magte uit op pad na Wes-Transvaal.

Toe Cronjé die middag van 17 Februarie 1900 die Modderrivier wou oorsteek, is hy vlak by Paardeberg van voor én agter deur Britse magte omring. Omdat die oormag te groot was, gee Cronjé bevel dat sy burgers hulle in die walle van die Modderrivier moes ingrawe en vandaar weerstand bied. Dit was ’n uitstekende defensiewe stelling, beman deur hoofsaaklik voetvolk. Vir tien dae hou hulle die fort en hoewel hulle toestand by die dag hagliker geword het, het hulle op 18 Februarie 1900 ’n groot Britse aanval (gelei deur Kitchener in Roberts se afwesigheid) teruggeslaan met Britse verliese van 1 270 man. Dit was van die grootste verliese op een dag in die hele oorlog. Toe Roberts terugkeer, het hy die troepe laat terugtrek en ’n onafgebroke bombardement op die laer begin wat tien dae later met die oorgawe van Cronjé sou eindig.

In die Britse weergawe van De Wet se oorlogsherinneringe beskryf hy sy gewaarwordinge van die laer soos volg: “What a spectacle we saw! All round the laager were the guns of the English, belching forth death and destruction, while from within it at every moment, as each successive shell tore up the ground, there rose a cloud – dark red cloud of dust.”

Uiteindelik besluit De Wet om op een bepaalde punt te konsentreer en ’n pad tot by Cronjé oop te veg. Laasgenoemde kon maklik met sy magte ontsnap as hy die waens wou los, maar hy het geweier. Selfs kaptein Danie Theron sluip deur die Britse linies tot by Cronjé en probeer hom oorreed om ’n pad oop te veg, terwyl De Wet weer van buite sou aanval. Cronjé weier weer en dwing De Wet om pad te gee omdat hy gevaar geloop het om self omsingel te word. Ongelukkig kon sy adjudant, veldkornet Speller van Wepener en 14 van sy manskappe nie ontkom nie en is deur die Britte gevang. Hieroor was De Wet uiters ontsteld.

Nicolaas van Rensburg (die Siener) wat ook saam met Cronjé vasgekeer was, het volgens sy eie latere vertelling ook tevergeefs probeer om die generaal tot ander insigte te bring. Tydens De Wet se poging om Cronjé uit te kry besluit Siener om pad te gee, maar sy perd word in die aanvalle deur ’n bomskerf getref. Sy skoonseun, Roelof Coertze, gee sy perd vir Siener om te ontsnap, terwyl hyself gevange geneem word.

Gedurende die nag van Maandag 19 Februarie 1900 ly die Boeremag ’n gevoelige verlies toe hoofkommandant Ignatius Ferreira van die Vrystaat gedurende ’n inspeksie van sy wagte per ongeluk deur ’n verskrikte skildwag doodgeskiet word. Die oggend van 27 Februarie 1900, Majubadag, gee Cronjé ná ’n beleg van tien dae met bykans 4 000 man aan Roberts oor. Hy en sy krygers word na St. Helena verban waar hulle die res van die oorlog deurgebring het. Hoewel die meerderheid van die Wes-Transvalers reeds saam met De la Rey in die Wes-Transvaal was, is ’n groot aantal van dié streek se burgers ook onder dié wat saam met Cronjé verban is.

Die kapitulasie van Cronjé was vir die Boeremagte ’n harde slag en die demoraliserende effek enorm. Baie het moed verloor en aan ’n Boere-oorwinning begin twyfel en huis toe gegaan. Dit het ook ernstige militêre gevolge vir die Republikeinse mag as geheel gehad, want ’n aansienlike deel van die kommando’s wat die Britse mag in Natal suksesvol weerstaan het, moes nou na die Wesfront gestuur word om Roberts se opmars te probeer stuit. De la Rey is deur president Kruger as assistentgeneraal aangestel om bevel oor die kommando’s van Wes-Transvaal te voer totdat ’n permanente aanstelling later gemaak kon word.


Volg die ruiters se vordering en herontdek saam met dié span die ryke geskiedenis van die gebied. Klik hier vir meer inligting oor dié rit. Bly op hoogte van gebeure by www.kraaluitgewers.co.za of op die groep se Facebook-blad @Herdenkingsritte. Kraal Uitgewers en AfriForum is trotse borge van vanjaar se rit.

Klik hier vir meer inligting oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 of om die boek aanlyn te bestel.