Die Ras-kanonne van die Eerste Vryheidsoorlog

Deur Ilze Nieuwoudt 

Die 140ste herdenking van die Slag van Majuba, wat op 27 Februarie 1881 tydens die Eerste Vryheidsoorlog plaasgevind het, word binnekort gevier. Dié oorlog was die grootste konflik tussen Boer en Brit vóór die Anglo-Boereoorlog wat in 1899 uitgebreek het. Hoewel laasgenoemde oorlog baie meer omvangryk was, het die Eerste Vryheidsoorlog ’n uitsonderlike plek in die Afrikaner se geskiedenis. Hoogtepunte – soos die Slag van Laingsnek én Majuba – het byna kultusstatus in die Afrikaner se geheue behaal. Tog skuil daar soveel meer agter dié oorlog as net die legendariese, finale slag van die oorlog by Majuba.

Daar word dikwels aangevoer dat oorlogvoering tot versnelde tegnologiese vooruitgang lei en dat die benutting van nuwer tegnologie die maak of breek van ’n kryger sal beteken. ’n Sitrusboer met ’n smidswinkel op sy plaas het tydens die Eerste Vryheidsoorlog ’n plek in die geskiedenis “oopgeskiet”, en getoon hoe tegnologie en innovasie ook deur die Transvalers tydens dié oorlog toegepas is.

M.N. (Marthinus) Ras is in 1843 in Natal gebore, maar het op agtjarige ouderdom na Transvaal verhuis toe die Ras-gesin hulle op die plaas Bokfontein, noord van die Hartbeespoort in die Magaliesberge, gaan vestig het. Dit was hier op Bokfontein – sy lewenslange tuiste – waar Marthinus gedurende die Eerste Vryheidsoorlog die bekende Ras-kanonne vervaardig het, waarskynlik met die hulp van sy broer (Hermanus), neef (Eduard) en hul seuns.

Reeds vroeg in die oorlog tydens die Beleg van Potchefstroom het Marthinus sy vernuf as kanonmaker getoon toe hy die Transvalers se kanon Grietjie onder hande geneem het. In sy boek, Die Ras-kanonne: Vervaardig uit wabandyster tydens die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 (gepubliseer in 1949), skryf J. Lion Pienaar soos volg oor Marthinus se werk aan Grietjie:

[D]it hinder hom [Ras] geweldig dat die kanonnetjie so ondoeltreffend is en elke keer ’n bollemakiesie slaan as ’n skoot gevuur word. Verlof om ou Grietjie van haar streke te genees, is geredelik gegee. Spoedig na sy behandeling was ou Grietjie van haar kwaal genees en het sy haar betaamlik gedra.

Met ’n herstelde kanon op sy kerfstok en sy kundigheid as smid, het Marthinus hierna aangebied om na Bokfontein terug te keer en daar ’n kanon vir die Transvaalse magte te vervaardig. In sy bekroonde boek, Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, skryf die historikus dr. Jackie Grobler dat die lope van die twee kanonne wat Marthinus gemaak het (bekend as Martienie en Ras), uit wabandyster gemaak was. Martienie se loop was nagenoeg 135 cm lank en het ’n binnedeursnee van sowat 7,5 cm gehad. ’n Soliede ysterprop is agterin gesmee en oor die lengte van die loop is ysterbande gepers om te verhoed dat die lope oopbars wanneer skote daardeur gevuur word. Grobler skryf verder:

Elke loop is afgerond met ’n korrel en visier, ’n gaatjie om die kruit aan die brand te steek, ’n laaistok en ’n wisterstok om dit mee skoon te maak. Elke loop is op gewone wavoorwielstelle gemonteer. Ronde ysterballe wat net-net in die loop gepas het, is as koeëls vir die kanonne vervaardig. Teen die einde van Februarie was daar al 300 koeëls gereed. Proefskote is met albei kanonne op Ras se plaas gevuur voordat hulle in die oorlog gebruik sou word. Slegs een kanonloop, genaamd Martienie, kon die proef deurstaan.

Teen die einde van Februarie 1881 is Martienie na Rustenburg gesleep, waar sy eerste ses skote op 3 Maart afgevuur is. Dié projektiele – wat elk nagenoeg 3 kg geweeg het – het egter nie hul teiken getref nie. Ses dae later is Martienie weer nader getrek en hierdie keer is minstens 30 skote afgevuur, waarvan vier die Britse fort getref het. Op 12 Maart word nog 13 keer – Martienie se laaste tydens die oorlog – op die fort losgebrand.

            Na afloop van die oorlog word die Ras-kanonne tot die Transvaalse staatsartillerie gevoeg en was selfs in 1900 op uitstalling by die wêreldskou in Parys.

Volgens ’n studie oor die Suid-Afrikaanse artilleriegeskiedenis wat reeds in 1974 in die South African Journal of Military Studies verskyn het, is een van die Ras-kanonne (waarskynlik Martienie) in die tussen-oorlogsjare (vóór die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog) in ’n “aanval” op Paul Kruger se woning gebruik. Die kanon is daagliks ingespan om die 12:00-tydsein af te vuur, maar op een dag is dit na bewering deur ’n artilleris, ene Comploier, met klippe gelaai voordat hy op Kruger se huis begin skiet het. Die skrywer voer selfs aan dat “enkele klippe … wel deeglik op die President se tafel geval [het] en die Artilleris is byna voor ’n krygsraad gedaag”. Die wapenversamelaar en privaat historikus M.C. Heunis meen dat die klippe eerder deur kwajongens in die loop gedruk was. Nietemin, die klipprojektiele het ernstige skade aangerig en Martienie se loop laat bars.

Ná die oorlog het Marthinus weer gaan boer en het ’n welgestelde man geword. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy weer die wapen opgeneem, maar is in Februarie 1900 naby Kayaseput, naby die Transvaalse wesgrens, deur swart krygers aangeval en vermoor.

Marthinus Ras word as die eerste kanonmaker in Transvaal beskou, en het, volgens Grobler, met sy Ras-kanonne die grondslag van die wapenbedryf in Suid-Afrika gelê.

Lees meer oor die Ras-kanonne en die Eerste Vryheidsoorlog in Grobler se Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 – beskikbaar by Kraal Uitgewers. Klik hier om dié boek in die uitgewer se aanlyn winkel te koop.