Die Slag van Belmont op 23 November 1899

(Uit: Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur Pieter de Jager, Kraal Uitgewers, bl. 20-21. Klik hier om dié boek te bestel.)

Die Boerestellings by Belmont was in die rantjies wat weerskante feitlik parallel met die spoorlyn loop en deur ’n vlakte geskei was. Die rantjies is beset om die Boere se hoofinstelling op Kafferskop te beskerm. Strategies was die stellings uitstekend, maar takties swak. Methuen se aanhoudende bombardement op die rantjies het katastrofiese gevolge vir die Boerestellings gehad. Die ontploffende bomme en vlieënde rotse het die Boere se vuurkrag gekortwiek en groot verliese veroorsaak. Hoewel hulle dapper weerstand gebied en met hewige geweervuur die aanslag telkemale afgeweer het, moes hulle uiteindelik hul stellings voor die volgehoue frontaanvalle van die Britse troepe prysgee.

Die verliese aan beide kante was hoog. Volgens die amptelike ongevalle aan Britse kant het drie offisiere, 51 onderoffisiere en manskappe gesneuwel en is 23 offisiere en 220 ander range en manskappe gewond. Aan Boerekant het vyftien gesneuwel terwyl 30 gewond en 36 krygsgevange geneem is. Ook die Boerelaer met groot hoeveelheid waens, karre, tente, klere, kos, komberse en ander persoonlike besittings het gedeeltelik afgebrand en in Britse hande geval. Alle dokumente is deur die Boere verwyder en Methuen kon geen inligting van enige voorgenome bewegings bekom nie.

Die veldslag by Belmont was die Boere op die Wesfront se eerste kennismaking met die slaankrag van die Britse militêre mag onder aanvoering van Methuen. Generaal De la Rey het in opdrag van president Kruger met ’n kommando van tussen 600 en 700 man suidwaarts gehaas om die Vrystaatse mag te gaan help. Hy kom die aand van 23 November by Graspanstasie aan, 16 km noord van Belmont. Hier verneem hy met ontsteltenis die nuus van generaal Prinsloo se nederlaag dié dag by Belmont. De la Rey besef dat die spoorverbinding na die noorde nou weer oop is en dringend afgesny sou moes word ten einde die Britse opmars te stuit. Hoewel hy nie die nodige gereedskap by hom het nie, laat hy die spoorlyn tussen Graspan en Belmont vir ongeveer 300 treë verniel. Hy versoek Prinsloo ook om versterkings beskikbaar te stel. Prinsloo en sy kommando’s was nie gedemoraliseer deur die nederlaag by Belmont nie en was vol moed vir die volgende kragmeting met die vyand. Hy gee onmiddellik gehoor aan De la Rey se versoek. Terwyl hy 500 burgers in die rigting van Luckhoff stuur om die Britte uit daardie rigting weg te hou, beweeg hy met die res van sy kommando’s na Graspan waar hy op 24 November by De la Rey aansluit. Hier wag hulle vir generaal Piet Cronjé wat met ’n groot mag op pad was.