Die Taaltrommel 15 Maart 2021: Wêreld Poësiedag

Ontdek wonderlike taalskatte soos vreemde uitdrukkings, ongewone woorde, moeilike uitspraak, verwarrende woorde, tongbrekerrympies of kopkrap-terminologie.


Op 21 Maart word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier, maar reeds in 1999 het die Verenigde Nasies 21 Maart tot Wêreld Poësiedag verklaar. Daardeur word erkenning gegee aan die unieke vermoë van poësie om die kreatiewe gees van die menslike verstand weer te gee.

Hier is ’n paar terme en woorde wat met die digkuns verband hou: 

epos (een woord, sonder ’n koppelteken) = verhalende gedig waarin heldedade breedvoerig beskryf word

kadans = ritmiese beweging in poësie en musiek, ritme; toondaling aan die end van ’n sin; toonbewegings in dans, musiek, met ’n bygedagte aan welluidendheid

liersang = gedig waarin die digter uitdruk wat in sy gemoed omgaan; subjektiewe poësie

sonnet = gedig met vaste vorm, waarvan een soort (Italiaanse sonnet) uit vier strofes bestaan: die eerste twee (die oktaaf) met vier reëls elk (kwatryne) en die volgende twee (sekstet) met drie reëls elk (tersines), meestal in jambes met tien of elf lettergrepe; klinkdig.

Terpsichore (Griekse mitologie) = een van die Muses en godin van die danskuns en liriese poësie, altyd voorgestel met ’n lier in die hand

(BRONNE: PharosAanlyn; Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 5de uitgawe)

“Waarom het die poësie die eerste ontwikkel? Is dit nie omdat hy die onmisbaarste dinge sê nie? Omdat hy altyd daar moet wees as die mens ’n sekere graad van bewustheid bereik het nie? Die poësie is die konsentrasie van ’n eeu se geestelike lewe.”

N.P. van Wyk Louw in Die goue vreugde: ’n Keur uit jare se leesgenot, saamgestel deur Audrey Blignault.