Die Taaltrommel 18 Oktober 2021: Politieke koekies

Ontdek wonderlike taalskatte soos vreemde uitdrukkings, ongewone woorde, moeilike uitspraak, verwarrende woorde, tongbrekerrympies of kopkrap-terminologie.


Met die landwye munisipale verkiesing om die draai, is dit seker gepas om na “politieke koekies” uit Suid-Afrika se koserfenis te verwys: Hertzog-koekies, Jan Smuts-koekies en Tweegevreetjies.

Hertzog-koekies (hertzoggies): ’n tertdoppie met ’n vulsel van appelkooskonfyt en ’n bolaag van klappermeringue. Dit is vernoem na genl. J.B.M. Hertzog (1866-1942), wat van 1924 tot 1939 eerste minister van die destydse Unie van Suid-Afrika was.

Jan Smuts-koekies (smutsies): soortgelyk aan Hertzog-koekies, maar met ’n deegbolaag in plaas van die klappermeringue. Hierdie koekies is gebak deur die aanhangers van genl. J.C. Smuts (1870-1950). Smuts was ook eerste minister van die Unie van Suid-Afrika (1919-1924; 1939-1948).

Tweegevreetjies (tweegesiggies) was eintlik proteskoekies wat die Moesliem-vroue van die Bo-Kaap geskep het nadat Hertzog se beloofde stemreg aan hulle nie gerealiseer het nie. Die koekies is met twee verskillende vulsels gevul: die een helfte met konfyt en die ander met klappermeringue. Die twee helftes is ook met verskillende kleure versiersuiker versier (ligpienk en bruin).

BRONNE: “Hertzoggies en ander politieke koekies”, Huiskok.com: https://huiskok.com/2014/11/19; RSG se Die tale wat ons praat: Taaldinge uit die gewilde radioprogram