Die Taaltrommel 2 Augustus 2021: Verwarrende woorde, uitdrukkings en frases

Ontdek wonderlike taalskatte soos vreemde uitdrukkings, ongewone woorde, moeilike uitspraak, verwarrende woorde, tongbrekerrympies of kopkrap-terminologie.


Verwarrende woorde, uitdrukkings en frases:

  • afkeer en afkeur

    “afkeer” is die vorm van die selfstandige naamwoord; “afkeur” is die vorm van die werkwoord
    afkeer s.nw. Gevoel van afsku: ’n Afkeer hê van kafpraatjies, van wreedheid.
    (Daar is wel ook die werkwoord “afkeer”: 1 Verhinder om te tref 2 wegdraai 3 Eenkant jaag 4 In ’n ander koers laat loop)
    afkeur ww. (afgekeur) 1 ’n Ongunstige opinie hê van; sê dat iets nie goed of reg is nie: Alle vloekery word afgekeur. ’n Afkeurende verslag. 2 Ongeskik verklaar: Voedsel afkeur.
  • groot mense en grootmense; klein kinders en kleinkinders

    groot mense: mense wat lank en swaar is
    grootmense: volwasse mense
    klein kinders: kinders wat nog klein is
    kleinkinders: grootouers se kleinkinders (dus hul kinders se kinders)
    (Wenk: “grootmense” en “kleinkinders” word vinniger uitgespreek as “groot mense” en “klein kinders”.)
  • grootword en groot word

    grootword: volwasse word: Hy het in Pretoria grootgeword.
    groot word (letterlik): wanneer iets in lengte of gewig toeneem, groter word

(Bronne: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 5de uitgawe; Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers; RSG se Die tale wat ons praat: Taaldinge uit die gewilde radioprogram)