“Vandat ek my verstand langs die treinspoor op Rusthof gekry het, was ek my pa se Boesman. En sy Boesman het ek gebly tot sy dood op 87-jarige ouderdom in 1995,” skryf die hoogs geëerde nuus- en sportfotograaf Wessel Oosthuizen in die voorwoord van sy outobiografiese werk, Boesman van Val. Oosthuizen se beroep het hom na die uithoeke van die aarde geneem en hom gelei van die nederige Transvaalse dorpie Val tot in onder meer Ysland, Viëtnam, die hippies in San Francisco, Oos-Berlyn, na vyf Olimpiese Speles, honderde rugbywedstryde en tientalle sportbyeenkomste.
Boesman van Val is ’n reis deur tyd en die mees opspraakwekkendste nuusstories soos gesien deur die oë van die fotograaf wat self daar was. Elke foto vertel ’n uitsonderlike verhaal en word toegelig met ’n toepaslike beskrywing of artikel om die foto en die gebeure wat daarop betrekking het, in konteks te plaas. Herbeleef die sukses van Suid-Afrika se jong kaalvoetatleet, Zola Budd; die gloriedae van Mannetjies Roux; die skoonheid van Anneline Kriel; die kontroversie rondom Glenda Kemp en die slang, Oupa; en vele meer.
Spesifikasies: Portret, 240 x 168 mm; sagteband, 468 bladsye
Skrywer: Wessel Oosthuizen
Uitgewer: Wessel Oosthuizen
Genre: Nie-fiksie