“BogWoordKies© is op 20 Mei 2016 in die motorkar op pad na Hermanus gebore en is gebaseer op ʼn speletjie wat ons jare gelede op die plaas gespeel het,” sê Bert van den Heever, medeontwerper van die bordspel.
Bert van den Heever, ’n bourekenaar, en sy vrou Laetitia, ’n voormalige voorskoolse onderwyseres en tans ’n gastehuis eienaar, moes gedurende die ontwerp van BogWoordKies© ’n duisend woorde soek wat nie algemeen bekend is nie. Gedurende hierdie proses – wat twee jaar geneem het – het hulle ook die bord vyf keer herontwerp gebaseer op terugvoer van familie en vriende wat die speletjie help toets het.
BogWoordKies© kan maklik gesien word as ‘n kombinasie van Balderdash, Trivial Pursuit, en Pictionary. Die hele idee van die speletjies kom egter uit die 17de eeu. “Dit was iets wat ons op die plaas gespeel het rondom die kombuistafel by ‘n olielampie,” onthou Bert. “Toe was dit maar net met die gebruik van ‘n woordeboek, pen en papier, maar die hoeveelheid pret en skaterlag was dieselfde.”