Van Rensburg is die outeur en uitgewer van Die Boerevrou Gedenkboek 2019 wat Woensdag, 27 Februarie by die Afrikaanse Protestantse Akademie (Pretoria) vrygestel is, waar sy geskiedenis doseer. Dit is ‘n tydskrif-boek, ‘n geskiedenisboek met die gevoel van ‘n moderne tydskrif, omdat dit nie net die eerste Afrikaanse vrouetydskrif herdenk nie, maar ook die ontwikkeling van die vrouetydskrifwese in die algemeen. Dit vertel vandag, na 100 jaar, die aangrypende verhaal van hoe die vrouens van ‘n volk opgestaan het na ‘n verpletterende oorlog en deur ‘n tydskrif, gewy aan hul belange in hul eie taal, in aanraking met die buitewêreld gebring is. Met die Gedenkboek neem Van Rensburg die leser op ‘n reis deur die huise en harte van ons Afrikaanse oumagrootjies, wat self nie meer hier is om hulle eie storie te vertel nie.