Die virus in die woud vertel die verhaal van COVID-19 soos ervaar deur die liefdevolle dierekarakters in die groenste
woud. Wat is ’n virus? Wat beteken isolasie? En wat doen die diere om hulself teen die virus te beskerm? Dié en
talle ander kwessies word in Die virus in die woud op ’n kindervriendelike manier aan jong lesers bekend gestel. Die
boek bevat ook verskeie aktiwiteite.
Meer oor die skrywer: Wietske Boon
Wietske Boon is gebore en getoë in Hartbeespoort en het ná matriek aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy is
’n spesialisberader wat haar toespits op speelterapie met veral jong kinders. Sy het ’n liefde vir onder meer boeke,
lees en skryf. Volgens Wietske bied boeke terapeutiese waarde, terwyl kinderboeke boonop ook groot genot verskaf.
“Enige onderwerp kan deur ’n storieboek verduidelik word. Dit kan kinders voorberei op elke lewensgebeurtenis
en selfs trauma verminder. Om hierdie rede het ek begin kinderstories skryf en natuurlik ook omdat dit vir my
lekker is.” Sy woon saam met haar man en seun in Centurion.
Meer oor die illustreerder: Jokie Boshoff
Jokie Boshoff is ’n gebore Pretorianer, kunsonderwyser en vryskut- grafiese ontwerper. In haar hart bly sy nog kind
deur haar dikwels te omring deur haar talle kleinniggies en -nefies en haar vriende se kinders. Die virus in die woud
is die eerste kinderboek wat deur Jokie se kunstenaarshande opgetower is. Sy het 18 jaar se ervaring as grafiese
ontwerper en geniet dit om ook in haar werk met illustrasies “te speel”.