Pioniersvrou. Eggenote. Moeder. Opponent van Britse imperialisme. Volksmoeder. Dit is wie Nonnie de la Rey was. Dít en soveel meer. Sy was bekend as die vrou van die Boeregeneraal Koos de la Rey, maar in haar leeftyd sou Jacoba Elizabeth de la Rey (gebore Greeff) bewys dat sy veel meer as ’n blote verlengstuk van haar man was. Haar lewe sou ook toon dat die vrou se betrokkenheid by die bittere Anglo-Boereoorlog nie net tot die smart en lyding in die konsentrasiekampe beperk was nie.Dié treffende biografie volg die voetspore van een van die merkwaardigste vroue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit vertel die verhaal van die eerste pioniers in die Wes-Transvaal, werp lig op Nonnie en Koos se nederige beginjare en die gesin se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog.
Dit is egter Nonnie se besluit om tydens die oorlog met haar kinders in die veld te swerf, om sodoende uit die hande van die Britte en die konsentrasiekampe te bly, wat haar lewe des te meer opspraakwekkend maak. As voortvlugtendes sou sy en haar kinders uiteindelik 18 maande lank ’n tuiste in die veld vind.
Ervarings wat tot die unieke tapisserie van Nonnie se lewe bydra, is haar kennismaking met waarskynlik haar man se grootste vyand, lord Methuen, haar en haar man se besoek aan Europa in 1902 en die heropbou van hul geliefde plaas Elandsfontein nadat dit as deel van die verskroeideaardebeleid in die oorlog verwoes is.
Spesifikasies: 229 mm x 152 mm, sagteband, 198 bladsye
Outeur: Zelda Rowan
Redakteur: Fransjohan Pretorius
Uitgewer: Kraal Uitgewers
Reeks: Kraal Histories