In die natuur gebeur daar nooit niks nie, al is daar byvoorbeeld nie ‘n leeujag nie, Christof en sy vrou volg die gebeure soos dit daar in die natuur met hul besoeke gebeur, die leser sien nie net die prentjies en tonele, wat beskryf word, hoor die geluide van die bos nie, maar ervaar dit asof hy/sy daar mét hulle is, jy ruik dit, proe dit, jy kan daaraan vat.
Die natuurlewe het sy eie ritme en bekoring, nét soos musiek, met elke lewende wese wat, in die omgewing waarin hulle moet oorleef, die sintuie en vaardighede wat aan hulle, eie aan hul soort, toegedeel is, ook teen die elemente inspan om hul spesie se voortbestaan te verseker.
Dit is soos dit in die Op Vlerke boeke geskilder word, met eie ritme, die note hou, om uiting aan elkeen se oorlewingsmeganisme te gee. Die manier van uitdrukking gee, diere, voëls beskryf, hier en daar ‘n insek, wat hulle doen, hoé, interaksie, beweging, gevoel, klanke, wat jou vasvang, die omgewing, plantegroei, die veld lewe gee, water, die terrein, dít is waaroor die boeke gaan, die skryfkuns met spesifiek die natuurlewe, waarin mens die skryfstyl kan uitleef wat met elke sintuig van jou praat.
Die boek ‘Bewaar dit vir die nageslag’ staan dus apart van die ander drie, juis ook waar die laaste hoofstukke in daardie boek handel oor Covid-19 en hoe Christof, sy vrou en andere, as natuurliefhebbers, daardie eerste maande, en nog vir ‘n tyd daarna, die inperking in hul huise ervaar het, hulle die natuurlewe vanuit hul huise op TV in verskeie wildreservate, onder andere die Masai Mara en die migrasie oor die Mararivier, moes beloer.