Die publikasie, deur Wessel Oosthuizen en Nico Moolman, is in Afrikaans én Russies geskryf en word deur AfriForum geborg.
Bande tussen Afrikaanstaliges en Russe bestaan al sedert 1899 en gedy die afgelope jare.
Foto’s uit die Anglo-Boereoorlog en dosyne wat Oosthuizen gedurende sy loopbaan as joernalis geneem het, dra grootliks by tot die trefkrag van die ongewone boek.
Min Suid-Afrikaners weet dat Russiese burgers van die eerste mense was wat die Boere in hul stryd teen die Engelse magte kom help het. Dit sluit vrywilligers in wat saam met die Boere geveg het, asook Russiese dokters en verpleegsters wat die gewondes kom versorg het.
In een van die hoofstukke word vertel van kaptein Leonid Pokrowski en twee ander Russe wat op Kersdag 1900 by Utrecht in die voormalige Natal gesneuwel het. Pokrowski se oorskot is in 1937 voor die NG Kerk op dié dorp herbegrawe.
Tatiana (Tougikowa) Denisevich, ʼn voormalige Sowjet-gimnas, het ʼn belangrike rol in die saamstel van die boek gespeel sedert sy Suid-Afrika in 1991 besoek en ʼn vriendskap met die gesin Oosthuizen gesmee het.
Een van die ander verrassende bydraes tot die inhoud is dat regter Piet Schabort van Aleksander Poeskin se gedigte in Afrikaans vertaal het.
Moolman is die skrywer van The Boer Whore (Kamphoer) en 15 ander boeke. Hy het ‘n museum, Buskruit & Laventel-plaasmuseum, op sy plaas buite Utrecht.
Oosthuizen, ʼn veelbekroonde sportfotograaf, het Rusland al 18 keer besoek. Hy het in 2019 een van sy 20 boeke, For the love of RUGBY: Only in Russia, by die jaarlikse sneeurugbytoernooi in Zelenograd bekend gestel.
Lees meer oor Persoonlike vriendskappe: Boere & Russe hier op Maroela Media.