In Skottel en spens word lekker resepte, stories en verse oor kosmaak saamgesnoer. Die boek is vir almal wat hou van lekker tradisionele Afrikaanse kos en meer daarvan wil weet. Dit bied boonop ook ʼn interessante afdeling oor eg Suid-Afrikaanse meubels en ander gebruiksvoorwerpe wat deur die loop van die eeue saam met die resepte ontwikkel het. Oor die grappies en amusante anekdotes wat met die jare ontstaan het, sal heerlik saamgelag word. Die boek is nie net op die huis se kok gemik nie, maar op al die huisgenote én hul vriende.
Skottel en spens bied aan lesers ʼn heerlike avontuur. Wie weet nog hoe veel ʼn knippie sout in Ouma se kookboek was en wat die verskil tussen ʼn knippie en ʼn grypie is? Waarvoor is ʼn jammerlappie gebruik en waar kom dié naam vandaan? Hoe lyk ʼn oblietjiepan en wie het al Jan-in-die-sak, galopsop of skuinskoek en stadige intrap geproe? Beleef saam hoe digters en liedjieskrywers die alledaagse van lekker kos ervaar en beskryf.
Tussen al dié lekkerte, staan die resepte wat oor drie eeue reeds deel van die Afrikaanse huishouding se spyskaart geword het, sentraal.
Spesifikasies: 290 mm x 210 mm, sagteband, 270 bladsye
Samesteller: Peet du Toit
Uitgewer: Duto Media