Suid-Afrika se deelname aan die Olimpiese Spele kan amptelik teruggevoer word na Londen 1908 toe vyf van die Suider-Afrikaanse Britse kolonies (naamlik die Kaapkolonie, Natal, Transvaal, Oranjerivierkolonie en Rhodesië) gesamentlik as Suid-Afrika aan dié spele deelgeneem het. Sedert die Nataller, Reg Walker, tydens dié Spele Suid-Afrika se eerste Olimpiese goue medalje gewen het – in die 100 m-wedloop – het Suid-Afrika nog tientalle Olimpiese medaljewenners opgelewer.
South Africa at the Olympic Games, 1904-2012, saamgestel deur die sportfotograaf Wessel Oosthuizen en sportjoernalis Faffa Loubscher, laat die Suid-Afrikaanse legendes van dié hoogaangeskrewe sporttoernooi herleef. Stap terug in tyd met elke Spele waaraan Suid-Afrika nog deelgeneem het. Die reis begin by die triomfantlike 2012-oorwinnings van sporthelde soos Chad le Clos en Cameron van der Burgh en volg tot by Suid-Afrika se hertoetrede tot die Olimpiese arena in 1992. Dit word opgevolg met ’n volledige lys en besonderhede van alle Suid-Afrikaanse Olimpiese atlete wat sedert die nie-amptelike eerste deelname in 1904 tot en met 1960 aan die Spele deelgeneem het.
Die boek bevat honderde hoë gehalte kleurfoto’s sowel as staaltjies van unieke gebeure soos die inspirerende verhaal van die swemmer Jenny Maakal wat so byna nie die fondse bymekaar kon raap om aan die 1932-Spele in Los Angeles deel te neem nie – maar uiteindelik met ’n bronsmedalje teruggekeer het huis toe.
Dié hardebandboek beslaan 276 bladsye, is slegs in Engels beskikbaar en kan nou by Kraal Uitgewers teen R350 (posgeld uitgesluit) aangekoop word.
Spesifikasies: Portret, A5, Hardeband, 220 mm x 160 mm, 276 bladsye
Skrywer: Wessel Oosthuizen, Lappe Laubscher
Uitgewer: Wessel Oosthuizen
Genre: Nie-fiksie, sport, geskiedenis