Nagenoeg 28 000 Boerekrygsgevangenes is uiteindelik in dié Suid-Afrikaanse kampe aangehou voordat hulle vanaf April 1900 na die 31 buitelandse kampe (te St. Helena, Ceylon, Bermuda en Indië) gestuur is. Later sou die Suid-Afrikaanse kampe weer as deurgangspunt dien – hierdie keer om gerepatrieerde Boere te huisves voordat hulle ná die lang en uitmergelende oorlog kon terugkeer na hul tuisdistrikte.
Vasgevang! spruit uit Louis Changuion se meestersgraadverhandeling wat hy in 2000, onder prof. Fransjohan Pretorius se studieleiding, aan die Universiteit van Pretoria voltooi het.
“In die lig van die 120ste herdenking van die Anglo-Boereoorlog, is Louis Changuion se studie […] ’n tydige en welkome toevoeging tot die historiografie van hierdie ingrypende oorlog.” – prof. André Wessels (Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat)
“Dié studie vul ’n belangrike leemte.” – dr. Vicky Heunis (historikus en museumkundige, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke)
Oor die skrywer: Louis Changuion
Louis Changuion het sy meestersgraadverhandeling in kultuurgeskiedenis in 2000 aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi. Hy beskik ook oor twee nagraadse diplomas in museumkunde en argief- en rekordbestuur wat hy onderskeidelik in 1996 aan UP en in 2009 aan die Victoria-universiteit in Australië verwerf het. Changuion woon tans in Nieu-Seeland waar hy as argivaris by die Massey-universiteit, in Palmerston North op die Noordeiland, werk.
Oor die reeksredakteur: Fransjohan Pretorius
Fransjohan Pretorius is die reeksredakteur van Kraal Histories en emeritusprofessor van die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria. Hy word as een van die mees vooraanstaande historici in Suid-Afrika beskou. Hy is die skrywer of redakteur van minstens agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog en is bekroon met etlike toekennings vir sy werk.
Kraal Histories
Vasgevang! is die vierde boek in die Kraal Histories-reeks. Vorige boeke in dié reeks is: Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 (2016) deur Zelda Rowan; Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog (2019) deur Leopold Scholtz; en Die Slag van Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog (2020) deur Andries Breytenbach. Die doel van die reeks is om leesbare en wetenskaplike MA-verhandelings en doktorale proefskrifte oor Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuur aan die Afrikaanse leser te bied.
Spesifikasies: Portret; 228 mm x 150 mm; sagtebandomslag
Uitgewer: Kraal Uitgewers (van Mei 2022 bekend as AfriForum Uitgewers)
Genre: Geskiedenis
Publikasiedatum: Junie 2022
Uitgawe: Eerste