Eerste boek in nuwe Kraal-geskiedenisreeks binnekort op die rak

Kraal Uitgewers stel binnekort ʼn opwindende nuwe publikasie oor die lewe van Nonnie de la Rey, geskryf deur Zelda Rowan, bekend. Dié boek is die eerste in die nuwe Kraal-histories-reeks en staan onder die redakteurskap van die bekende geskiedkundige prof. Fransjohan Pretorius. Volgens Pretorius is die doel van dié reeks om leesbare en tog wetenskaplike M.A.-verhandelings en doktorale proefskrifte oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur aan lesers te bied.

“Wat lesers in die eerste boek in die reeks kry, is ʼn biografie van ʼn merkwaardige Boerevrou – Nonnie de la Rey, vrou van die beroemde Boeregeneraal, Koos de la Rey. En daar het ek doelbewus in die strik getrap, want dit kan net sowel andersom wees – Koos de la Rey was die eggenoot van die befaamde Nonnie de la Rey, ʼn nooi Greeff, pioniersdogter daar uit Lichtenburg se wêreld,” verduidelik Pretorius in die voorwoord van die Nonnie-biografie.

In dié publikasie ondersoek Rowan en Pretorius onder meer Nonnie en haar kinders se swerfjare tydens die Anglo-Boereoorlog om uit die hande van die Britse magte te bly, haar unieke verhouding met sekerlik haar man se grootste vyand – lord Methuen – en die lewe na haar man se skielike dood in 1914. In dié publikasie sal die leser die vrou agter die legendariese krygsman ontmoet en vind dat ware heldinne dikwels ook buite die slagveld, tussen haar kinders, te vinde is.

Hou Kraal Uitgewers se Facebook-blad en webblad dop vir meer inligting oor die bekendstelling van dié nuwe publikasie.