Erfenisdag 2015: Vier fees van die Hantam tot in Transvaal!

Pretorianers kan hul vere solank regskud vir die Voortrekkermonument se jaarlikse Erfenisfees wat oudergewoonte op Erfenisdag (24 September) gehou word. Dié gewilde fees word vanjaar in samewerking met AfriForum en die ATKV-Centurion aangebied en beloof om ’n heerlike gesinsdag te wees – vol interessante aktiwiteite en kultuurdemonstrasies vir oud én jonk. Kraal Uitgewers sal ook op dié dag sy gewildste boeke teen spesiale feespryse te koop aanbied.

Pak solank die piekniekkomberse, sonhoed en stapskoene vir ʼn onvergeetlike feesdag. Feesgangers sal dié dag die kuns om brood in ʼn bakoond te bak, koffie te brand en kerse te giet eerstehands kan ervaar en sal ook kan leer om self botter te maak en swepe te vleg. ʼn Uitstalling van die Trekboervereniging beloof om die nostalgie van vervloë dae te herroep met die uitstalling van kakebeenwaens en pioniersgoedere. Gaan op ʼn ossewarit of skiet met ʼn voorlaaier of sit terug en geniet die perdevertoning.

Talle stalletjies met snuisterye, gebak, ingelegde produkte, handwerk, kosse te kies en te keur sowel as ʼn biertuin sal verseker dat niemand die dag se verrigtinge op ʼn leë maag of met ’n droë mond aanpak nie. Boonop sal ʼn potjiekoskompetisie genaamd “Ons kook vir erfenis” deur die Erfenisstigting aangebied word en agt potjies sal voorberei en beoordeel word.

Maar wat is ʼn fees sonder eg tradisionele musiek? Vir hierdie erfenisbelewenis sal die Klipwerf-Boereorkes van die Hantamstreek, die ATKV-Centurion Musiekforum, Dewald von Solms en Coert Grobbelaar sorg.

Die kanon, Susanna, sowel as ander kleiner kanonne sal om 12:00 seremonieel afgevuur word – moenie hierdie oomblik misloop nie.

Die gewilde antiekmark sal ook die dag op die dak van die amfiteater aangebied word.

Hekke open om 09:00 op 24 September. Aktiwiteite word by die Voortrekkermonument se piekniekterrein aangebied en sal teen 16:00 ten einde loop. Toegang beloop R30 per motor en gaste word herinner om eie stoele vir die dag se verrigtinge saam te bring. Vir meer inligting kontak die feesbestuurder Etta Judson by 012 326 6770.