Erfenismaandfokus – Gouddelwery amptelik aan die Witwatersrand toegelaat

Op 8 September 1886, vandag 134 jaar gelede, word gouddelwery amptelik aan die Witwatersrand toegelaat en duisende fortuinsoekers haas hulle daarheen in die hoop om ’n stukkie van Afrika se goud vir hulself te kry.

Hoewel daar in die nagenoeg 30 jaar voor 1886 verskeie gouddraende klippe noord van die Witwatersrand gevind is, was die pogings om dit te myn relatief onsuksesvol. Daar is getuienis dat plaaslike inwoners reeds voor die koms van Europeërs op plekke in die noorde en ooste van die ou Transvaal goud gemyn het. Volgens ’n verslag oor die gebied het een Voortrekker (’n Bronkhorst) in 1836 verwys na plaaslike inwoners wat goudringe gemaak het uit goud wat in die Zoutpansberg gemyn is. Een van Suid-Afrika se bekendste historiese artefakte is waarskynlik die goue Mapungubwe-renoster wat in die 1930’s op ’n terrein sowat 70 km wes van Musina naby die Limpoporivier ontdek is. Daar bestaan egter steeds onenigheid oor die oorsprong van die goud wat gebruik is vir hierdie artefak (en ander goue items wat op die Mapungubwe-terrein gevind is).

Sommige kenners meen dat die goud waarskynlik in Zimbabwe gemyn is. Die Mapungubwe-terrein was die hoofsetel van ’n voorspoedige koninkryk wat tussen 900 en 1300 hier gevestig was en teen die 14de eeu om onbekende redes deur sy inwoners verlaat is of as koninkryk tot niet gegaan het. Die nagenoeg 800 jaar oue Mapungubwe-renoster is deel van ’n uitstalling by die Universiteit van Pretoria se Mapungubwe-museum en bied ’n interessante blik op die Ystertydperkgeskiedenis in Suid-Afrika. Dit bevat ook die grootste versameling antieke goudstukke in suidelike Afrika.   


Kraal Uitgewers vier Erfenismaand met ’n fokus op monumente, bakens, historiese terreine en historiese items wat alles deel vorm van ons erfenis.