Familiegeskiedenis: Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou

deur Ilze Nieuwoudt

“Ouma het altyd vertel …” Hoeveel keer het ’n verhaal uit die familie se verlede nie al so begin nie? En tog, al het jy dié staaltjie al male sonder tal gehoor én vertel, loop die feite soms by die agterdeur uit wanneer die jare by die voordeur aanklop. Gesinne, families, vriende en kennisse se lewens is net so deel van ’n geskiedenis as die opspraakwekkende gebeure van die tyd. Dikwels ken ons die feite van noemenswaardige insidente uit die verlede – dink maar aan die Groot Trek of die Anglo-Boereoorlog – maar ons eie familie se verhale raak in vergetelheid.

Daar is wel verskeie praktiese maniere waarop individue hul eie families se verlede kan bewaar.

  1. Vra die regte vrae

Begin by ouer familielede en teken sover moontlik hul belangrikste persoonlike inligting op soos geboortedatums, volledige doopname, nooiensvanne, plek van geboorte en feite oor hul skool- en werksloopbane. Dit is ’n goeie vertrekpunt vir die optekening van ’n individu se verhaal. Ander kultuurhistoriese inligting sal handig wees om die persone se lewe as’t ware te kan inkleur, soos watter speletjies hulle as kinders gespeel het, watter kos hulle geëet het, watter motorvoertuie hulle of hulle ouers gery het en selfs hoe belangrike historiese gebeure hulle beïnvloed het. Hierdie inligting sal alles bydra tot die samestelling van ’n persoonlike geskiedenis. Dokumenteer ook deur dié familielede enige inligting oor ander familie wat reeds gesterf het. Die inligting sal veral handig wees indien daar later ’n formele familiestamboom opgetrek word. ’n Video- of stemopname van die onderhoude kan ook oorweeg word.

  1. Werk deur die foto-albums

Die digitale era maak die bewaring van gedrukte foto’s eenvoudig. Hierdie waardevolle bron van familiegeskiedenis is egter nutteloos indien dit nie die korrekte konteks het nie. Hoeveel families het nie bokse vol foto’s van onbekende gesigte en gebeure nie? Sonder die besonderhede van die mense op die foto of die plek waar dit geneem is, is die foto ’n jammerlike vergete oomblik in tyd. Pak die ou albums uit, digitaliseer (d.w.s. skandeer) dit, en gee volledige beskrywings van die inhoud daarvan. 

  1. Resepte, briewe én voorwerpe

Die handgeskrewe resep met die oliekolle wat deur die jare lêplek op die nou vergeelde papier gekry het; die brief van Oupa toe hy nog skaam-skaam by Ouma vlerkgesleep het; en die brose handgemaakte sakdoekie van geslagte terug. Elkeen van dié items het ’n verhaal en hoewel dit gans onmoontlik is om elke item van jou voorouers soos ’n museumstuk te bewaar, kan spesiale stukke met ’n kort beskrywing oor die jaar waaruit dit dateer, inligting oor die vorige eienaar(s), ens. veilig gebêre word vir ’n volgende generasie.    

  1. Vertel die kinders

Die optekening en bewaring van ’n familie se geskiedenis kan nie bloot in die besit van een individu bly nie en die oorvertel van verhale aan die volgende generasie sal help verseker dat die feite behoue bly. Dié oordrag kan op verskeie maniere gedoen word soos besoeke aan die dorpe waarin voorouers gewoon het, die optekening van ’n kort familieverhaal of besoeke aan begraafplase waar voorouers begrawe is. (Klik hier om te lees oor een Suid-Afrikaanse familie wat ’n kinderboek geskryf én geïllustreer het vir die bewaring van hul familieverhaal vir die volgende geslag.)