Fritz Joubert Duquesne: Die ontwykende Boerespioen

deur Ilze Nieuwoudt 

Min dinge fassineer die menslike psige soveel soos ’n geheim – en wanneer dié geheim boonop ’n Suid-Afrikaanse konneksie met die Anglo-Boereoorlog het, spits geskiedenisliefhebbers met rede dadelik die ore. Een van die kleurrykste én mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is waarskynlik Fritz Joubert Duquesne.

Lotsgebonde: Die verhaal van Fritz Joubert Duquesne deur Bets Botha het onlangs verskyn en bied vir die eerste keer ooit ’n poging tot ’n omvangryke biografie oor dié geheimsinnige karakter. Jare lank word daar gegis en bespiegel oor Duquesne. Hieroor sê Botha: “Die probleem lê by die man self, want behalwe vir sy spioenasiewerk en ander klandestiene operasies (wat gepaard gaan met geheimsinnigheid en valse name), het hy ook maar die pap effens dik aangemaak oor homself. So wat is waarheid, leuen en fantasie?”

Vind in Lotgebonde meer uit oor dié spioen se betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog, sy vertrek na Amerika ná vredesluiting, sy terugkeer na Afrika en sy werk in die Duitse Geheime Diens. Botha poog om die feite en fiksie agter die verskeie gesigte van Duquesne te onderskei. Dokumentasie uit die argiewe van Britse en Suid-Afrikaanse geheimedienste-organisasies is nagevors en bied uiteindelik enkele vasstaande feite oor Duquesne se aktiwiteite. Tog is daar sekere elemente van dié man wat steeds ontbreek en moes Botha werk met die min beskikbare en moontlik gemanipuleerde inligting (so reg in Duquesne se aard) om die stukke van die Duquesne-legkaart te probeer bou.   

Lotsgebonde is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R360. Besoek die uitgewer se aanlyn winkel by www.kraaluitgewers.co.za om dié boek te bestel.