Databasisse

Wes-Transvaal

Klik hier vir die databasis

1914-Rebellie: Vind jou Rebelle-voorouers hier!

Die herdenking van die Rebellie van 1914 is op 15 September 2014, presies 100 jaar ná die skietdood van generaal Koos de la Rey, gedenk met die bekendstelling van ʼn Kraal Uitgewers-projek getiteld “De Wet, Beyers en . . . ek”. Dit is aangevul deur ʼn uitstalling van sowat 2 000 name van rebelle wat aan dié opstand deelgeneem het en dié van sowat 600 vroue wat aan die eerste vroueoptog in Suid-Afrika na die Uniegebou in 1915 deelgeneem het.

Die doel van die “De Wet, Beyers en … ek”-projek is om bewustheid oor die 1914-Rebellie onder die publiek te skep. Dié opstand wat gespruit het uit die Unie van Suid-Afrika se besluit om aan die kant van Brittanje tot die Eerste Wêreldoorlog toe te tree, het Afrikanergesinne en dorpe verdeel en ernstige nagevolge gehad wat dekades later nog hul merk gelaat het. Tog is mense dikwels oningelig oor die omvang hiervan en is baie keer selfs nie bewus daarvan dat hul eie voorouers hierby betrokke was nie.

Met dié projek nooi Kraal die publiek uit om nie net hul voorouers se rol in die Rebellie na te gaan deur middel van die databasis van rebelle en vroue wat opgestel is nie, maar om ook hul familie se Rebellie-stories met Kraal te deel.

Kliek hier om die Rebellie-databasis af te laai.
Kliek hier om die naamlys van die 1915 Vroueoptog af te laai.

Anglo-Boereoorlogdatabasisse die ideale manier om jou skakel met dié oorlog op te spoor

Danksy die werk van verskeie persone en instellings bestaan daar reeds talle databasisse beskikbaar wat met die Anglo-Boereoorlog verband hou. Dié databasisse bied aan die navorser en ander belangstellendes die nodige inligting oor persone wat onder meer in die oorlog geveg het, in die konsentrasiekampe aangehou was en selfs as Kaapse rebelle tydens dié oorlog geveg het.

Die Anglo-Boereoorlogmuseum in Bloemfontein beskik oor ’n omvattende stel databasisse met inligting oor onder meer die volgende:

– Name van geïnterneerde Boere in Portugal
– Name van Boere-offisiere
– Name van burgerlike sterftes tydens die oorlog
– Name van Kaapse rebelle
– Naamlys van buitelandse vrywilligers wat aan die oorlog deelgeneem het
– Naamlys van joiners
– Name van Natalse rebelle
– Name van krygsgevangenes en krygsgevangenes wat in aanhouding dood is

Kliek hier om na die webblad van die Anglo-Boereoorlogmuseum herlei te word.

Konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (databasis)

Die konsentrasiekampedatabasis wat onder leiding van dr. Elizabeth van Heyningen van die Universiteit van Kaapstad en ʼn span navorsers opgestel is, is waarskynlik die omvattendste van sy soort beskikbaar. Die databasis word voortdurend opgedateer en bied ʼn verskeidenheid van inligting rakende die konsentrasiekampe.

Soektogte kan onder meer op ʼn persoon se voorname en van gedoen word, sowel as in afsonderlike kampe. Elke persoon se profiel bevat ook verskeie waardevolle inligting soos plaasname waarvan die persoon afkomstig was, die datum waarop die persoon die kamp ingekom het, of die persoon in die kamp oorlede is of nie en toon in sekere gevalle selfs die betrokke persoon se verwantskap aan ander persone in die kampe.

Die databasis is saamgestel van die oorspronklike kampregisters en is hoofsaaklik saamgestel om ondersoek in te stel na die sterftes wat in die kampe voorgekom het.

Kliek hier om jou soektog op hierdie databasis te begin.