Gesogte toekenning vir taalkenner

Foto: Jaap Steyn, mede-ontvanger van die Jan H. Marais-prys vir 2017, saam met die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dr. Dioné Prinsloo.

Die taalhistorikus prof. Jaap Steyn het die afgelope week tydens ’n amptelike Akademie-toekenningsgeleentheid in Stellenbosch die Jan H. Marais-prys ontvang. Die prys is vanjaar aan Steyn en die teoloog prof. Jan van der Watt oorhandig en word jaarliks aan kadidate wat ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal gemaak het, toegeken.

In sy toespraak het Steyn veral klem gelê op die tragiese uitfasering van Afrikaans by histories Afrikaanse universiteite en benadruk dat dié gebeure ernstige gevolge vir skole, die gemeenskap en Afrikaans as literêre en wetenskapstaal inhou. Hy het egter benadruk dat verskeie instellings soos dié van onder meer die Solidariteit Beweging, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Litnet steeds aktief werk aan die behoud van die taal as intellektuele en wetenskapstaal. Hy het die Het Jan Marais Nasionale Fonds spesifiek bedank vir die bydrae wat gemaak word om hierdie take te kan verrig.

Steyn het ook die Akademie vir die toekenning bedank en gesê: “Mensewerk is alte dikwels in mindere of meerdere mate vol gebreke. Wanneer ander mense nogtans wys dat hulle waarde heg aan jou werk, dan beteken daardie erkenning baie.

Mede-ontvanger van die Jan Marais-toekenning: Jaap Steyn
Een van Steyn se mees prominente werke, Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare, is in 2014 deur Kraal Uitgewers gepubliseer en is deur verskeie voorste taalkenners aangeprys as ’n “indrukwekkende” en ’n “monumentale werk van groot betekenis.” Steyn het ook ’n bydrae gelewer tot die uitgewer se nuutste boek onder redaksie van die risiko-ontleder en kenner van Afrika-sekuriteit, dr. Heinrich Matthee, getiteld Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd.

Ons gaan ’n taal maak gaan boonop binnekort in Engels vertaal word. Volgens Kraal Uitgewers se uitvoerende hoof, Alana Bailey, is onlangs besluit om die werk ook aan ’n internasionale gehoor bekend te stel wat prof. Steyn se uitsonderlike bydrae tot die uitbou van Afrikaans as wetenskaptaal sodoende selfs verder sal voer. “Die Engelse weergawe van dié boek sal ’n dieper begrip van die kompleksiteit en omvang van die geskiedenis van hierdie Afrikataal aan ’n nie-Afrikaanse gehoor kan gee en sal hopelik ’n nuwe perspektief op die ontstaan, ontwikkeling en oorlewing van dié jong taal aan internasionale lesers kan bied,” verduidelik Bailey.

Steyn is in 1938 in die Fouriesburg-distrik gebore en het gedurende sy loopbaan onder meer as joernalis by die Volksblad en Rapport gewerk en hy was ’n skrywer en dosent aan die Universiteit van Port Elizabeth, die toenmalige Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat. Hy het in 1997 amptelik afgetree, maar is sedertdien steeds aktief as skrywer. Steyn het verskeie pryse en toekennings vir sy werk ontvang, waaronder die Eugène Marais-prys, die Stals-prys vir geskiedwetenskappe, die Louis Hiemstra-prys vir niefiksiewerk, die C.J. Langenhoven-prys vir taalwetenskap en die N.P. van Wyk Louw-medalje vir die volgehoue uitbouing van die geskiedwetenskappe. Hy het ook in 2015 erelidmaatskap van die Akademie ontvang vir sy volgehoue akademiese en kulturele bydrae tot Afrikaans in Suid-Afrika sowel as in Nederland en Vlaandere.