Gewilde skrywer vra: “Afrikaner, wat nou?”

In Kruispaaie: Afrikanerkeuses van die 19de en 20ste eeu plaas die bekende skrywer en historikus dr. Leopold Scholtz die fokus op die rigtinggewende keuses wat die Afrikaner in die verlede geneem het en ondersoek die, soms rampspoedige, gevolge van dié besluite. Hy vra ook die brandende vraag prontuit: Het die moderne Afrikaner dit in hulle om binne die praktiese beperkings ’n herwonne toekoms te skep? Of sal hulle sagkens, soos ’n kers onder ’n maatemmer, uitgedoof word?

Scholtz stel ondersoek in na keuses uit die Afrikaner se verlede wat nie net die geskiedenis in ’n sekere rigting gelei het nie, maar ook dié groep se wil om oorlewing sou beklemtoon. Dié kultuurgroep se stryd om oorlewing is duidelik in onder meer die vestiging van die Boererepublieke, die keuse om Afrikaans as taal te vestig, die herwinning van politieke mag in 1948 en uiteindelik die verlies van mag teen 1994.

Dié keuses, die besluite en die gevolge is op ’n uitmuntende wyse uiteengesit in Kruispaaie: Afrikanerkeuses van die 19de en 20ste eeu. Kliek hier om dié boek in Kraal se e-winkel te koop.