Herdenkingsrit 2018: 9 ruiters, meer as 200 km en een taai Vrystaatse winter

’n Voorliefde vir Afrikanergeskiedenis gemeng met ’n sterk dosis passie vir hul getroue perde – dit som min of meer die ruiters van Herdenkingsritte en die rede vir die aanpak van nog ’n uitmergelende rit in die middel van die Vrystaatse winter op. Herdenkingsritte is ’n inisiatief wat in 2012 deur sameroeper en ruiter Theunis van Staden tot stand gekom het. Sedertdien het Van Staden en verskeie ander ruiters reeds nagenoeg 1 700 km afgelê en sowat 30 geskiedkundige terreine langs die pad besoek.

Vanjaar het nege ruiters ’n volgende taai rit aangepak. Hierdie keer het die rit tydens die bekendstelling van Kraal Uitgewers se nuutste boek, Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, op 23 Junie by die Vrouemonument in Bloemfontein afgeskop. Die rit het oor meer as 200 km gestrek en daar is by verskeie Anglo-Boereoorlogterreine en -monumente aangedoen. Prominente bakens op dié rit, waarvan Kraal en AfriForum borge was, het onder meer die slagvelde by Paardekraal en Magersfontein, die historiese bakens by Jacobsdal en Petrusburg ingesluit. Die rit is op Sondag 1 Julie in Kimberley afgesluit.

“Ons het nie net ons eie geskiedeniskennis opgeskerp nie, maar ons het ook bewus geword van die groot behoefte aan die instandhouding en bewaring van hierdie terreine en monumente. Talle van die monumente en terreine waarby ons gekom het is ongelukkig tans in ’n swak, vervalle of beskadigde toestand,” vertel Mareli Rall, AfriForum-bemarkingsbeampte wat ook die rit meegemaak het.

Volgens Van Staden is daar ’n dringende behoefte om die geskiedenis aan die lewe te hou en ’n bewustheid daaroor by veral jong mense te kweek.

Klik hier vir meer volledige inligting oor die geskiedenis van die omgewing waardeur gereis is sowel as die historiese terreine waarby die ruiters daagliks aangedoen het.

Let asseblief dat bestellings via die SA Poskantoor gestuur tans vertraag word as gevolg van 'n staking Dismiss