KRAAL UITGEWERS IS GESLUIT VIR DIE FEESSEISOEN VAN 13-12-2018 TOT 11-01-2019 Dismiss

Herontdek Van Riebeeck se skatkis

In die nuwe publikasie Vat jou goed en bou! skryf die uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, oor ’n geheimsinnige kissie wat Jan van Riebeeck in 1652 kort ná sy koms na die Kaap oopgemaak het. Die inhoud van die kissie is waarskynlik nie wat Van Riebeeck verwag het nie. Buys skryf: “Dit is 6 April 1652. Die 33-jarige Jan van Riebeeck staan op die strand en kyk hoe die matrose die paar stukkies gereedskap, landboubenodigdhede en die karige persoonlike besittings van die 90 aankomelinge aflaai. Hy sug hardop. Hoe verwag die VOC moet hy met net 82 mans en 8 vroue ’n verversingspos oprig om die grootste handelsvloot ter wêreld van voorrade te voorsien? Hierdie paar hopies goed op die strand lyk nie eens genoeg vir die groepie pioniers nie.

“Maar net toe hy dink dat hulle byna met leë hande hier aangeland het, sien hy die skatkis raak wat die VOC se direksie met groot sorg aan hom oorhandig het. Die opdrag was dat hy persoonlik daarna moes omsien, en dit eers by hulle aankoms mag oopmaak. Die voorsitter het vertroulik aan hom gefluister dat die skatkis die geheime bestanddele bevat wat nodig is om ’n moderne ontwikkeling in Donker Afrika te begin.

“Hy weet dat almal tydens die maande lange seereis nuuskierig gewonder het wat in daardie skatkis is. Hy moes op ’n keer selfs vir Maria aanspreek om nie heeltyd onder die bed in te loer waar hy dit weggesteek het nie. Boonop het hy seker gemaak dat ’n betroubare soldaat voor sy kajuit waghou wanneer hy met ander take op die skippie besig was. Selfs die kapteins van die drie skepies kon nie hulle nuuskierigheid bedwing wanneer hulle gesamentlik kajuitraad gehou het nie. Hy kon sien hulle het hom nie geglo toe hy sê dat hy nie weet of dit goud, silwer of ander skatte bevat nie. Die VOC was in 1652 immers die grootste en rykste maatskappy ter wêreld.

“Maar nou besef Van Riebeeck dat hy nie die geheim langer kan hou nie. In doodse stilte buk hy af en sluit die kissie versigtig oop.”

Bogenoemde uittreksel uit “Herontdek Van Riebeeck se skatkis” verskyn in die nuwe Kraal Uitgewers-publikasie Vat jou goed en bou! Twintig jaar van Solidariteit (R280). In hierdie bundel verskyn nagenoeg 100 van Buys en dr. Dirk Hermann se mees opspraakwekkende rubrieke. Kry jou eksemplaar vandag nog en vind uit wat die geheimsinnige inhoud van Van Riebeeck se kissie was. Kontak Kraal Uitgewers by 012 880 1953 of stuur ’n e-pos na luan@kraaluitgewers.co.za om jou bestelling te plaas.