Historiese foto – 1915-vroueoptog na die Uniegebou in Pretoria

Die 1915-vroueoptog na die Uniegebou in Pretoria.

Vroueverteenwoordigers het van oral in die land na Pretoria gestroom vir dié optog waarin versoekskrifte aan die regering oorhandig is vir die vrylating van generaal Christiaan de Wet en ander Rebelle wat aan die Rebellie van 1914-1915 deelgeneem het.

Hieroor word in Kraal Uitgewers se publikasie Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 geskryf: “Die middag van Woensdag 4 Augustus 1915 – ’n jaar nadat die Britse Ryk oorlog teen Duitsland verklaar het – het talle vroue hul betoging in Pretoria gehou. Byna 230 dorpe en stede het afgevaardigdes gestuur, meestal twee per dorp, hoewel plekke soos Pretoria en Johannesburg meer gehad het. Die meeste was in swart geklee en het swart sambrele gehad. Volgens De Spectator se berekening was daar 2 863 vroue, benewens nog sowat 2 000 mans en vroue wat hulle as belangstellendes begelei het. Nadat die stoet by die amfiteater van die Uniegebou aangekom het, het hulle in stilte gewag op die terugkoms van die afvaardiging wat die versoekskrif aan die goewerneur-generaal, lord Buxton, gaan oorhandig het. By hom het die slanke regop mevrou Joubert met haar aristokratiese voorkoms die woord gevoer. Die vroue het die name van 65 000 mense oorhandig en daarna het nog handtekeninge ingestroom. Die regering het ’n paar dae later bekend gemaak dat hy nie aan die versoek van die vroue gehoor kan gee nie.”