Historiese foto – Krygsgevangenes op Ceylon

’n Groep lidmate van die Gereformeerde Kerk wat as krygsgevangenes op Ceylon aangehou is in 1900.

Volgens die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke is meer as 5 100 Boerekrygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog na Ceylon (vandag bekend as Sri Lanka) gestuur. Die eerste krygsgevangenes het in Augustus 1900 – vandeesmaand 120 jaar gelede – op Ceylon aangekom. Verskeie kampe is in Ceylon opgerig. Die grootste was die Diyatalawa-kamp wat sowat 300 km oos van die hoofstad, Colombo, geleë was.

Hier is gevangenes in sinkstrukture gehuisves en die kamp was met doringdraad omhein. “Spanning tussen die Vrystaters en Transvalers in die kamp het daartoe gelei dat die kamp [Diyatalawa] in twee verdeel is met die Vrystaters in ‘Steynsburg’ en die Transvalers in ‘Krugersdorp’,” luidens die Oorlogsmuseum.

Lees meer oor die verskille wat tussen die Vrystaatse en Transvaalse regerings gedurende die oorlog bestaan het in dr. Leopold Scholtz se boek Bondgenote en dwarstrekkers.
Dié boek is beskikbaar in Kraal se e-winkel teen R250.

(Fotobron: Morné van Rooyen, My Dopperdagboek)