Jacobsdal: De la Rey se donkerste uur

Woensdag 27 Junie 2018 (Dag 5)
Roete: Paardeberg tot Jacobsdal
Afstand: 44 km

Jacobsdal: De la Rey se donkerste uur

Vandag pak die ruiters van Herdenkingsritte die tog aan na Jacobsdal. Vir generaal Koos de la Rey en sy vrou, Nonnie, het Jacobsdal ’n tragiese verhaal, want dit is hier waar hul seun Adriaan (ook bekend as Adaan) op 29 November 1899, ’n dag ná die Slag van Tweeriviere (of Modderrivier), aan sy wonde beswyk het.

In Zelda Rowan se boek oor die lewe van Nonnie de la Rey (beskikbaar by Kraal Uitgewers) vertel die droewige boodskap wat die generaal op 29 November 1899 aan sy vrou gestuur het, kortliks die lotsverhaal van hul seun:  “Heden ontsliep ons geliefde zoon Adriaan zoo zach in mijn armen aan een kogel wond hem gisteren in een hevig gevecht is toegebracht. Het lyk zal morgen alhier te Jacobsdal ter aarde besteld worden: Hoe hard het ook voor ons allen is God heeft het alzoo besloten zijt verder gegroet.”

Die veldslag het noordwes van Jacobsdal by die samevloeiing van die Riet- en die Modderrivier plaasgevind. Hieroor skryf die Boeregeneraal soos volg:

Ongeveer twee-uur die dag is ek deur ’n bomskerf in my regterskouer getref. My seun het die hele tyd by my gebly, terwyl ek op-en-af langs die gevegsterrein beweeg het om die burgers aan te moedig. Die aand met sonsondergang is my seun deur ’n bomkoeël dodelik in die sy getref. Ek het hom na ’n stil plek geneem en daar neergelê aangesien ek nie onmiddellik na hom kon omsien nie, totdat my kommando’s die aand teruggetrek het. Nadat ek al my burgers onttrek het, het ek gegaan om my seun te haal. Omdat ek geen ambulans kon kry en geen rytuig by my gehad het nie, was ek verplig om my seun na Jacobsdal te dra, ’n afstand van nege myl [14,5 km] … ek het toe maar voortgegaan na die hospitaal te Jacobsdal waar ek die môre met dagbreek aangekom het … ongeveer een uur na my aankoms te Jacobsdal is my seun aan sy wond oorlede. Ek het die dag daar oorgebly om hom te begrawe.

Die Britse skrywer Amery reken dat die dood van sy seun die enkele gebeurtenis was De la Rey finaal tot die militêre stryd teen Brittanje verbind het. (Klik hier vir meer inligting oor dié gebeure.)

Meer oor Jacobsdal

Die klein dorpie Jacobsdal is in 1858 op Christoffel Jacobs se plaas Kalkfontein gevestig en twee jaar later, in Julie 1860, is munisipale status daaraan toegeken. Die dorp is nagenoeg 155 km wes van Bloemfontein op die randjie van die Vrystaatse grens met die Noord-Kaap geleë. Jacobsdal spog met die Landzicht-wynkelder, die eerste wynkelder wat buite die grens van die destydse Kaapprovinsie gevestig is en vandag nog wyn van topgehalte uitvoer. 

Geskiedkundige besienswaardighede in Jacobsdal en omgewing*

  • Anglo-Boereoorlogblokhuis: Geleë op die hoek van Kerk- en Willie Bothastraat. Die blokhuis is in 1901 deur die Britte opgerig en het deel gevorm van ’n uitgebreide blokhuislinie wat veral gedurende die guerilla-oorlogvoeringstyd van die oorlog in werking gestel is. Die blokhuis is in 1983 tot ’n nasionale monument verklaar.
  • NG Kerk Jacobsdal: Dié kerk se hoeksteen is in Januarie 1878 gelê en na voltooiing is die gebou in 1879 in gebruik geneem.
    • Dit is gedurende die Anglo-Boereoorlog as hospitaal gebruik. ’n Koeëlpunt in die voordeur van die kerk is vandag nog ’n herinnering aan die aanval wat gedurende die oorlog op die dorp uitgevoer is.
    • Die burgermonument voor die kerk is opgerig ter nagedagtenis aan die burgers wat tydens die Slag van Roodelaagte, ook bekend as die Slag van Graspan (op 25 November 1899), gesterf het.
  • Burgerklipstapel: Die klipstapel is in November 1899 gepak deur burgers kort voordat hulle aan die Slag van Roodelaagte deelgeneem het. Die burgers het hul name in die klippe op die stapel gegriffel. Die stapel is naby Saundershoogte op die terrein van die Jacobsdal Hoër Landbouskool geleë.
  • Britse oorlogsgrafte en -monument in die munisipale begraafplaas in De Villiersstraat.
  • Die Tuin van Herinnering: In die ou begraafplaas waar Boer en Brit saam begrawe was voordat hulle herbegrawe is.
  • Groot Trek Eeufees-gedenkteken (sowel as die 1988-gedenkteken): Die gedenkplaat kan gesien word op die Voortrekkerplein in Sarel Cilliersstraat tussen Piet Retief- en Voortrekkerstraat.
  • Jacobs-woning: Een van die eerste wonings in Jacobsdal, gebou deur C.J. Jacobs, is geleë in Sarel Cilliersstraat.

*Bron: “Gedenktekens in Suid-Afrika”, opgestel deur dr. J. Grobler en beskikbaar by http://www.boererepublieke.co.za/wp-content/uploads/2013/09/Gedenktekens-in-Suid-Afrika.pdf


Volg die ruiters se vordering en herontdek saam met dié span die ryke geskiedenis van die gebied. Klik hier vir meer inligting oor dié rit. Bly op hoogte van gebeure by www.kraaluitgewers.co.za of op die groep se Facebook-blad @Herdenkingsritte. Kraal Uitgewers en AfriForum is trotse borge van vanjaar se rit.

Klik hier vir meer inligting oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 of om die boek aanlyn te bestel.