Japie Greyling: Die stilswyende kinderheld

ʼn Jong Japie Greyling (regs) by sy tweelingbroer Kerneels.Bron: Erwe vir ons kinders: Japie Greyling (Kraal Uitgewers)
ʼn Jong Japie Greyling (regs) by sy tweelingbroer Kerneels.Bron: Erwe vir ons kinders: Japie Greyling (Kraal Uitgewers)

Vra jy mense vandag uit oor wat die bekende helde uit ons verlede soos Japie Greyling, Dirkie Uys of Wolraad Woltemade gedoen het, sal talle waarskynlik nie regtig weet nie. Ja, die name klink dalk nog bekend, maar die verhaal en heldedaad het so te sê by die agterdeur uitgewaai.Die sielkundige, dr. Scott Alison, van die Richmond Universiteit in die VSA, het reeds tientalle studies oor die mens se soeke na helde gedoen. Hy reken byvoorbeeld dat lyding en opoffering dikwels sentraal in die vorming van ʼn held staan. In Suid-Afrikaanse geskiedskrywing is die voorkoms van helde legio – en ook hier is die opoffering wat gemaak is of die lyding wat deurgegaan is, kenmerkend.

Die bekende gebeurtenis van 2 Maart 1901 waarin die 11-jarige Japie Greyling die dood in die oë gestaar het, bevat al die elemente van ʼn heldeverhaal. Maar wie was Japie en wat het daardie oggend op die plaas Smaldeel, in die distrik Hoopstad gebeur?

In hul boek, Erwe vir ons kinders: Japie Greyling, beskryf Marianda en A.W.G. Raath die agtergrond waarteen die gebeure in die Anglo-Boereoorlog afgespeel het. Dit was die gebruik dat alle seuns van 16 jaar en ouer by die kommando’s aangesluit het om teen die Britte te veg. Dit het wel dikwels ook gebeur dat jonger seuns daarop aangedring het om ook op kommando te gaan. Jonger seuns, soos in die geval van Japie en sy tweelingbroer Kerneels, het egter ook op die plaas ʼn baie belangrike rol vervul en hier help omsien na die boerdery. Daar is van dié kinders as’t ware verwag om sogenaamde “mannewerk” te verrig.

Die huishouding waarin Japie grootgeword het, het beslis bygedra tot sy pligsbesef en die erns waarmee die oorlog bejeën is. Sy pa, kommandant Barend Greyling, was immers ʼn gerespekteerde man wat in verskeie oorloë, insluitend die Eerste Vryheidsoorlog, sy stempel afgedruk het. Boonop is eienskappe soos lojaliteit en getrouheid teenoor hul ouers, familie en God vroeg by die Greyling-kinders ingeprent.

Barend Greyling se reputasie as soldaat het hom vooruitgeloop en die Britse bevelvoerder kaptein Seely het derhalwe tydens die Anglo-Boereoorlog opdrag gekry om Greyling vas te trek. In Maart 1901 ontvang Seely inligting vanaf ʼn Boereverraaier en spioen dat Greyling sy gesin op hul plaas sou besoek. Die Greyling-plaas is in die vroeë oggendure bestorm, maar voordat die Britte op die werf kon toeslaan, het Greyling met nog twee mans weggeglip. Seely het die voortvlugtendes raakgesien en agternagesit, maar het onverrigter sake na die werf teruggekeer.

Dit is hier waar die soldate hul aandag op die jong Japie begin toespits het en hom met vrae gepeper het. Op ʼn vraag oor waarheen Greyling sr. gegaan het, het die moedige Japie reguit geantwoord: “Na hulle kommando.” Ten spyte daarvan dat Seely aangedring het op inligting oor waar die kommando hom bevind, het Japie geweier om verdere inligting te verskaf. Selfs die bevelvoerder se dreigement dat Japie geskiet sou word as hy nie die inligting verskaf wat Seely geëis het nie, het Japie nie laat swig nie. Einde ten laaste, is Japie om die muur van die huis begelei en ʼn vuurpeleton van ses soldate is voor hom staangemaak.

In sy digterlike weergawe beskryf Jan F.E. Celliers die gebeure op dié dag treffend in sy gedig “Japie Greyling”:

‘Kom, seuntjie, die roer in mij hand is gereed”

– en sij grimmige oge staan dreigend en wreed –

‘wijs, wijs met jou hand waar die Boere-mag trek,

of ik skiet jou daar dood waar jij staat, op die plek!’

Dan weier Japie ʼn laaste keer om sy pa se posisie te verklap en Seely besef opeens dat dié seun voet by stuk sal hou en die Brit blaas die aftog. Later is dit opgeteken dat Seely geweldige respek vir die jong Boereseun se manhaftigheid gekry het en Japie gegroet het met die woorde: “Jy is ʼn dapper seun. Ek hoop dat ek jou weer eendag sal ontmoet.”

Seely het jare later wel probeer om Japie op te spoor, maar kon eers in 1931daarin slaag om met Japie kontak te maak. Die Brit het sy boek, waarin die gebeure van Maart 1901 beskryf is, vir Japie gestuur. In die voorwoord is sy bewondering duidelik in die woorde: “[Japie] whose courageous bearing and fearless answer earned the admiration and respect of a troop of English horse and myself, their commander, thirty one years ago.”

Erwe vir ons kinders: Japie Greyling, sowel as twee ander boeke in die reeks (naamlik Paul Kruger en Die dood van twee jong Kaapse rebelle) is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R100 per stel (posgeld uitgesluit). Klik hier om jou eksemplaar te bestel.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!