Kraal Uitgewers blaas nuwe lewe in Louw-broers se nalatenskap 

Sommige mense word met ’n goue lepel in die mond gebore; ander met ’n witbrood onder die arm – die Louw-broers is waarskynlik met ’n gedig in die hart en ’n pen in die hand gebore. Die nalatenskap van die skrywer-broers N.P. van Wyk en W.E.G. Louw is ’n skatkis van diepe woordkuns. Hulle voetstappe het in die koue Karoo-dorpie, Sutherland, begin, maar sou uiteindelik veel verder strek. Hulle werk word beskou as van die beste nog wat in Afrikaans gelewer is. Nou kan jy ook, as deel van Kraal Uitgewers se Louw-broers-produkte,’n stukkie van hierdie skatkis besit.

Hoewel W.E.G. Louw, die jongste van die vier Louw-broers, eerste sy hand aan digkuns gewaag het – en uitsonderlike gedigte opgelewer het – was dit eerder sy broer N.P. van Wyk wat die wêreld aan die praat sou kry. Oor N.P. van Wyk se eerste digbundel het W.E.G. geskryf: “Dié nag – sal ek dit ooit vergeet? – het ek gelees: verse soos nooit tevore in ons eie taal, woorde met ’n wonderlike samehang, beelde soos vonke uit vuurklip geslaan. Dié nag was wit van daardie lig . . .”

’n Litnet-artikel oor N.P. van Wyk Louw getuig van die indruk wat dié skrywer gemaak het: “Met sy breedheid van aanleg, sy mag oor die woord en sy skerp intellek is hy een van die grootste digters van ons tyd . . . [hy] word algemeen erken as die sterkste en veelsydigste figuur van die geslag van 1930.”

W.E.G. se werk is ook as vernuwend bestempel en veral sy natuur- en liefdesgedigte sou lesers aanraak. Sy werk is as verfynd, sensitief en tog aards en warm-menslik beskou.

Beide broers se nalatenskap op die Afrikaanse literêre gebied is omvangryk en smeek om deur ’n nuwe-generasie Afrikaanse leser (her)ontdek te word.

Nou kan jy ook ’n stukkie van dié skrywers besit met een van Kraal Uitgewers se nuwe Louw-broers-produkte. Twee T-hemde (een van W.E.G. en een van N.P. van Wyk Louw) sowel as twee Louw-koffiebekers is onlangs bekendgestel en is nou beskikbaar. Kliek hier om dié produkte in Kraal se e-winkel aan te koop.