Kraal Uitgewers se spore in Nederland

Deur Alana Bailey

In die hart van Amsterdam, Nederland, is ’n besondere Suid-Afrikaanse kultuurskat, waar spore van Kraal ook te vinde is. Dit is Zuid-Afrikahuis, ’n kultuur-, inligting- en navorsingsentrum wat die doel het om Nederlandse belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaans lewend te hou en die kulturele verbintenis tussen Nederland en Suid-Afrika te versterk.

Die biblioteek huisves meer as 56 000 boeke. Dit is die mees omvattende versameling van Afrikaanse boeke en boeke met Suid-Afrikaanse temas wat buite Suid-Afrika bestaan. Verder kan 550 gestaakte tydskrifreekse, 40 steeds bestaande tydskriftitels, asook DVD’s en ander materiaal met ’n Suid-Afrikaanse tema daar geraadpleeg word. Daar is ook omvangryke argief- en beeldmateriaal wat volgens die jongste tegnieke bewaar word. Afrikaanse en Nederlandse taalkursusse word soms aangebied, asook byeenkomste van ’n leeskring wat op Suid-Afrikaanse letterkunde of publikasies met ’n Afrika-tema fokus.

Die historiese gewelgebou, geleë in die sogenaamde “gragtegordel” te Keizersgracht 141, is in ongeveer 1620 deur die Hasselaer-familie opgerig. Deur die eeue is dit vir vele gebruike aangewend. In 1923 het die Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (ook bekend as Stigting ZASM) die huis aangekoop en sedertdien bied dit huisvesting aan Suid-Afrikaanse versamelings. Die gebou is in 1970 tot Nederlandse Ryksmonument verklaar, van 2014 tot 2015 omvattend gerestoureer en op 12 Februarie 2016 vir die publiek heropen. As deel van die restourasieproses is die bewaringsruimte in die agtertuin van die huis ook modern ingerig met uitstekende klimaatbeheer en uitnemende benutting van die beperkte spasie om die boeke en dokumente ten beste te bewaar.

Kraal Uitgewers en die biblioteek het ’n ooreenkoms aangegaan dat Kraal alle nuwe titels wat ons uitgee, aan Zuid-Afrikahuis sal skenk. Ons is trots daarop dat hierdie Nederlands-Suid-Afrikaanse kultuurbaken ook ’n tuiste vir Kraal se publikasies bied!

Vanjaar het Zuid-Afrikahuis ook verskeie van die bordspeletjies wat Kraal bemark, aangekoop. Dit word deeglik benut, met speletjiesaande wat by die huis aangebied word. Alle belangstellendes is byvoorbeeld pas weer genooi om op 5 Julie 2021 van 18:30 tot 20:30 spelenderwys hulle kennis oor Suid-Afrika te kom uitbou deur Tel jou woorde, Tyd Toer, Die volgende stop en Die Groot Trek saam te speel.

COVID-19 het uiteraard ook dié instelling lank gedwing om gesluit te bly, maar nou is dit weer oop vir besoekers, solank veilige afstande tussen mekaar gehandhaaf word en mense steeds maskers (of “mondkappies”, soos die Nederlanders dit noem) dra.

Wanneer grense weer oop is en reis weer veiliger, raai ons almal wat Amsterdam besoek ten sterkste aan om ook ’n draai by Keizersgracht 141 te gaan maak!