Kraal Uitgewers-skenking vind tuiste in Nederland

Deur Alana Bailey 

In Junie vanjaar is Kraal Uitgewers se mees onlangse publikasies, Vat jou goed en bou (Flip Buys en Dirk Hermann); Kultuurvryheid en selfbestuur (redakteur Heinrich Matthee); Vers en kapittel (Daniel Hugo) en Wes-Transvaal (Pieter de Jager) aan die biblioteek van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, Nederland, geskenk. Dit is deur Corine de Maijer, die bibliotekaris van hierdie merkwaardige instelling, in ontvangs geneem.

Zuid-Afrikahuis word beskryf as ’n kultuur-, inligting- en navorsingsentrum met die doel om Nederlandse belangstelling in Suid-Afrika, die Afrikaner en Afrikaans lewend te hou en kultuurbande tussen Nederland en Suid-Afrika te versterk.

Die biblioteek huisves meer as 56 000 boeke. Dit is die mees omvattende versameling van Afrikaanse boeke en boeke met Suid-Afrikaanse temas wat buite Suid-Afrika bestaan. Verder kan 550 gestaakte tydskrifreekse, 40 steeds bestaande tydskriftitels, asook DVD’s en ander materiaal met ’n Suid-Afrikaanse tema daar geraadpleeg word. Daar is ook omvangryke argief- en beeldmateriaal wat volgens die jongste tegnieke bewaar word. Afrikaanse en Nederlandse taalkursusse word soms in die huis aangebied, asook byeenkomste van ’n leeskring wat op Suid-Afrikaanse letterkunde fokus.

Hierdie historiese gewelgebou, geleë in die sogenaamde “gragtegordel” te Keizersgracht 141, is in ongeveer 1620 deur die Hasselaer-familie opgerig. Deur die eeue is dit vir vele gebruike aangewend. In 1923 het die Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (ook bekend as Stigting ZASM) die huis aangekoop en sedertdien is dit ’n Suid-Afrikaanse voetspoor in die hart van Amsterdam. Dit is in 1970 tot Nederlandse Ryksmonument verklaar, van 2014 tot 2015 omvattend gerestoureer en op 12 Februarie 2016 vir die publiek heropen.

Kraal Uitgewers en die biblioteek het ’n ooreenkoms aangegaan dat Kraal alle nuwe titels wat uitgegee word, aan Zuid-Afrikahuis sal skenk. Ons is trots daarop dat hierdie Nederlands-Suid-Afrikaanse kultuurbaken ook ’n tuiste vir Kraal se publikasies bied!

’n Besoek aan Zuid-Afrikahuis word ten sterkste aanbeveel vir enigeen met ’n passie vir die gedeelde geskiedenis en kultuur van Nederland en Suid-Afrika.