Kraal Uitgewers: Waar “broodnodige” geskiedenis lééf

“Boeke is soos brood en moet soos brood behandel word.” Dié woorde van die Afrikaanse akademikus en oudredakteur van die Tydskrif vir Letterkunde, Elize Botha, bevat ’n “broodnodige” waarheid. Ja, die mens kan sekerlik nie van brood alleen leef nie, maar dit is  eenvoudig ’n basiese noodsaaklikheid!

Kraal Uitgewers is 20 jaar gelede deur Paul Alberts gestig met die doel om hoëgehalteboeke oor die Anglo-Boereoorlog (met ’n sterk fokus op die foto-erfenis daarvan) te publiseer. Ná dié internasionaal gerekende fotograaf oorlede is, is die uitgewer by die Solidariteit Beweging ingelyf en publiseer reeds sedert 2010 tientalle werke deur vooraanstaande historici en meningsvormers. Afrikanergeskiedenis vorm steeds die kern van die uitgewer se werk, maar die fokus is intussen ook uitgebrei om aktuele publikasies sowel as enkele letterkundige werke en letterkundige ontledings in te sluit.    

Militêre kenners, tophistorici, internasionaal gerekende letterkundiges en meningsvormers se boeke is reeds in die afgelope aantal jare deur Kraal Uitgewers gepubliseer. Die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, generaal Jannie Geldenhuys, se boek Ons was daar, dr. Jackie Grobler se bekroonde publikasie Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 en Kill the Boer deur AfriForum se Ernst Roets is enkele van die boeke wat reeds daartoe bygedra het dat die feite oor die Afrikaner se verre verlede, meer onlangse geskiedenis én hede reggestel word.

Kraal Uitgewers se e-winkel maak boonop dit vir lesers in alle uithoeke van die land (én wêreld) moontlik om ’n Kraal-publikasie te koop. Klik hier om die winkel te besoek – maak vandag nog seker dat daar nie “broodgebrek” op jou boekrak is nie!

Kraal-skrywer en -redakteur vereer met toptoekennings

Die historikus dr. Jackie Grobler is vroeër vandeesmaand aangewys as die ontvanger van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se Protea Boekhuisprys vir 2019 vir sy boek oor die Eerste Vryheidsoorlog, ’n publikasie deur Kraal Uitgewers. Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 spruit uit Grobler se D-graadstudie oor dié oorlog en is aan die einde van 2018 by Kraal gepubliseer. (Klik hier vir meer inligting oor dié boek.)

“Dit is ’n geweldige groot eer vir Kraal en ons is opreg dankbaar vir die erkenning,” het Alana Bailey, uitvoerende hoof van die uitgewer kort ná die aankondiging gesê.

Die Protea Boekhuisprys word jaarliks toegeken en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, beste M-verhandeling en beste D-proefskrif in Afrikaans. Vanjaar word die prys toegeken vir die beste gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans in die afgelope drie jaar. Carel van der Merwe was in 2016 die ontvanger van dié prys vir ’n gepubliseerde werk vir sy boek Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (uitgegee deur Tafelberg).

Intussen is die redakteur van die Kraal Histories-reeks, prof. Fransjohan Pretorius, ook onlangs aangewys as vanjaar se ontvanger van die Jan H. Marais-toekenning. Dié gesogte toekenning, met prysgeld van ’n halfmiljoen rand, word jaarliks gemaak vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Die nuutste Kraal Histories-publikasie, Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, deur Leopold Scholtz, is vroeër vandeesmaand bekendgestel. Klik hier vir meer inligting oor dié boek.