Legende se musiek herleef!

deur Ilze Nieuwoudt 

“Kom dans Klaradyn, kom en dans weer met my op maat van die aandwind wat wieg oor die wei.” Die Suid-Afrikaanse tenoor Gé Korsten en sopraan Nellie du Toit het jare gelede die land aan die sing gehad hiermee. So ook die operalegende Mimi Coertse. Later sou die tenoor Manuel Escórcio dit op sy unieke manier verewig en intussen het talle sangers dié lied bemeester. Ja, die woorde van C.F. Visser ís treffend, maar die musiek – soos geskryf deur die komponis S. Le Roux Marais – is beslis medeverantwoordelik vir die sukses van dié lied wat so diep in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers gekruip het.

Marais, ’n gebore Bloemfonteiner, het reeds op agtjarige ouderdom musieklesse begin neem. Volgens ’n artikel wat in Desember 1943 in Die Huisgenoot oor hom verskyn het, het Marais reeds vroeg in sy skooljare besef dat musiek sy toekomstige loopbaan sou wees. Hy het in 1914 sy studies onder leiding van P.K. de Villiers (neef van M.L. de Villiers wat “Die Stem” getoonset het) begin en in 1918 sy lisensiaat aan die Suid-Afrikaanse Kollege van Musiek verwerf. Hierna het sy pad na Londen geloop, waar hy sy studies aan die Royal College of Music voortgesit het.

Gedurende sy loopbaan het Marais minstens 100 kunsliedere gekomponeer sowel as musiek vir operettes, kore en orrelspel. Buiten vir “Kom dans Klaradyn”, is “Die Roos” (die toonsetting van die bekende gelyknamige A.G. Visser-gedig) waarskynlik een van Marais se bekendste liedere. Dié lied het in 1929 eerste prys by die Kaapse Eisteddfod verower. Hieroor is in Junie 1939 in Die Transvaler geskryf: “Dit was ‘Die Roos’ wat hom bekend laat word het as ’n komponis met uitstekende talent. Hierdie lied het dadelik byval gevind en word beskou as een van die drie mooiste Afrikaanse liedere.”

 “Die Roos” – ’n roos in die kroon van Visser én Marais

Die gedig “Die Roos” deur A.G. Visser is in 1928 deur Marais getoonset en is kort voor lank as een van die beste liedere in Afrikaans bestempel. Die roos was dikwels ’n sentrale tema in Visser se gedigte en ’n geliefde is gereeld met ’n roos vergelyk, terwyl die verganklikheid van ’n roos, liefde en skoonheid hiermee verbind is. Volgens Visser se tweede vrou, het die roos ’n muse in Visser aangewakker. “Die Roos” is treffend en ekonomies en dui op die kort huweliksgeluk wat Visser met sy eerste vrou, Lettie, gehad het. Dié gedig is danksy die woorde van Visser en die musiek van Marais ’n ware liefdeslied:    

            Te kort jou skoonheidsduur,
                        Roos van my hof;
            Vir jou volmaakte uur
                        Die Gewer lof!

            Te kort ons liefdestyd:
                        Te lank die rou.
            Tog – tot in Ewigheid
                        Goddank vir jou!

Manjifieke Marais!
Veertig van S. Le Roux Marais se grootste werke is nou beskikbaar op ’n versamelaarsalbum. Die dubbelalbum S. Le Roux Marais Feesjaar: 40 liedere – 40 jaar later is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R250. Besoek die uitgewer se aanlyn winkel by www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting of om jou album te bestel.