Lip- én watertandlekkerte oor die soet, die suur en die gebraai in ons kookkuns

TIEN DAE VAN ERFENIS – DAG 2 : 16 SEPTEMBER

Lip- én watertandlekkerte oor die soet, die suur en die gebraai in ons kookkuns.

Drie feestelike feite oor… Ons koserfenis

  • Koeksisters: Die oorsprong van die koeksister soos ons dit vandag ken, is ’n storie wat vleg tussen wonder en weet. Volgens navorsing wat deur H.W. Claassens aan die Universiteit van Pretoria gedoen is onder die tema “Die geskiedenis van Boerekos, 1652-1806”, kan die oorsprong van die koeksister waarskynlik teruggespoor word na die Nederlandse oliekoek. In vroeë tye het resepte vir bolle, krullers (gedraaide repe) en koeksisters (gevlegte repe) verwarring veroorsaak en is al die terme eintlik as sinonieme vir bolagtige én gevlegte repies lekkernye gebruik. In sommige gevalle is presies dieselfde deeg gebruik, maar die “afwerking” het verskil – sommige is in ’n gesmelte suikerstroop gedompel en ander is in suiker gerol. Die verwarring oor die ware “koeksister” het duidelik nog in die 1930’s voortgeduur, want in S. van H. Tulleken se boek Die praktiese kookboek vir Suid-Afrika (1937) lui die koeksister-resep dat versoete deeg in bolle gevorm moet word en “as dit gaar is, trek dit deur stroop”.
  • Melktert: Volgens die koskenner Hetta van Deventer-Terblanche het melktert, soos ons dit vandag ken, sy oorsprong by die Middeleeuse monnike en nonne van die Rooms-Katolieke Kerk. Hulle het dikwels planne gemaak om in die tyd waarin gevas moes word, plaasvervangers vir vis, melk, vleis en eiers te vind. Op dié manier is amandelpap van amandelmelk en gegeur met gemmer en kaneel gemaak. Later is eiervla in ’n tertkors ook gemaak en uiteindelik is die amandelpap met eiervla-pap vervang. Sekere resepte wat uit die Middeleeue dateer toon dat suiker dikwels op geregte gesprinkel is.
  • Braai: Suid-Afrika hou die wêreldrekord vir die grootste braai wat nog gehou is. In Mei 2015 het meer as 3 000 braaiers gelyktydig dieselfde maaltyd tydens ’n braai in Mbombela (Nelspruit)voorberei en so die vorige rekord van ’n Chinese skool verbeter. In 2013 het 2 801 mense op een slag aan dié skool se rekordpoging deelgeneem. 

(Bronne: Solidariteit Tydskrif, Sarie, Die Laevelder) 

Vier ons koserfenis by Kraal Uitgewers

In Skottel en spens word lekker resepte, stories en verse oor kosmaak saamgesnoer. Die boek is vir almal wat hou van lekker kos uit die tradisionele Afrikaanse koskultuur en meer daarvan wil weet. Dit bied boonop ook ’n interessante afdeling oor eg Suid-Afrikaanse meubels en ander gebruiksvoorwerpe wat deur die loop van die eeue saam met die resepte ontwikkel het. Oor die grappies en amusante anekdotes wat met die jare ontstaan het, sal heerlik saamgelag word. Die boek is nie net op die kok in die gesin gemik nie, maar op al die huisgenote én hul vriende.