Lizzie van Zyl – en ander soos sy

Deur Ilze Nieuwoudt

lizzie-van-zyl-en-ander-soos-syLizzie van Zyl se uitgeteerde liggaampie bly skokkend. Dié sewejarige Boeremeisie is in die geskiedenisboeke verewig juis vanweë haar bittere lyding en dood wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp afgespeel het.

Lizzie is vandag die simbool van die lyding wat derduisende kinders gedurende die oorlog moes deurmaak. Haar verhaal is een van wreedheid en tot vandag toe nog bring die bekende foto van Lizzie op haar sterfbed die realiteit tuis van die ongeregtigheid wat teenoor kinders gedurende die oorlog gepleeg is.

Die Britse aktivis, Emily Hobhouse, wat vanaf Januarie tot Junie 1901 ses verskillende konsentrasiekampe besoek het, het ook besoek afgelê by die Bloemfontein-kamp. Dit was hier waar sy die sterwende Lizzie teëgekom het.

Oor dit wat Emily gesien het, skryf sy later breedvoerig. Sy vertel dat sy Lizzie gereeld gesien het waar sy op ʼn klein matrassie na haar asem lê en hyg het. Emily het opgemerk hoe Lizzie se ma, met die min wat sy tot haar beskikking gehad het, probeer het om na haar dogter om te sien.

Sy skryf ook later oor Lizzie: “Sy was ʼn brose, verswakte klein kindjie wat desperaat goeie sorg nodig gehad het. Maar omdat haar ma een van die ongewenstes was – aangesien haar pa nie oorgegee het of sy mense verraai het nie – is Lizzie op die laagste rantsoen geplaas. So het sy gekwyn van die honger en ná ʼn maand in die kamp is sy na ʼn nuwe klein hospitaal oorgeplaas. Hier is sy wreed behandel. Die Engelse dokter en sy verpleegsters het nie haar taal verstaan nie en sy kon nie Engels praat nie. Hulle het haar as ʼn idioot bestempel terwyl sy verstandelik niks makeer het nie. Die een dag het sy neerslagtig na haar ma geroep waarna ʼn mevrou Botha na haar geloop het om haar te vertroos. Dié het die kind vertel dat sy gou weer haar ma sou sien, maar Botha is deur een van die verpleegsters onderbreek wat haar vertel het dat die kind net lastig was.” Lizzie is kort na hierdie voorval oorlede.

Die foto van die sterwende Lizzie is in ʼn stadium aan die Britse media versprei en hoewel Emily se doel was om die omstandighede in die konsentrasiekampe oop te vlek, het sy in haar tuisland baie teenkanting ontvang. Sommige het selfs teen Lizzie se ma en ander soos sy uitgevaar en moeders van wreedheid teenoor hulle eie kinders beskuldig. Daar is met alle mag en mening gepoog om mense in Brittanje te oortuig dat dit eintlik die skuld vir die lyding en uithongering eintlik op die Boere-moeders geplaas moet word. Daar is selfs gemeen dat dit weens die moeders se eie onnoselheid en agterlosigheid gebeur het.

Wie was Lizzie werklik?

Die foto van Lizzie van Zyl op haar sterfbed is in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp geneem. In haar arms lê ʼn klein porseleinpoppie wat volgens oorlewering deur Emily Hobhouse aan Lizzie gegee is. Volgens ʼn navorsingstuk wat deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad oor die konsentrasiekampe opgestel is, is Lizzie in Mei 1901 oorlede. Die studie beklemtoon dat aangesien kampregisters by die Bloemfontein-kamp nie goed bygehou is nie, is dit nie presies seker wie Lizzie was nie. Daar word egter beweer dat sy Elizabeth Cecilia van Zyl was wat oorspronklik van die plaas Twitsniet in die Ventersburg-omgewing afkomstig was.

Lizzie was volgens navorsing een van sewe kinders en deel van ʼn bywonersgesin. Ten tye van Lizzie se dood was haar ma 31 jaar oud. Lizzie was nie die enigste kind in die Van Zyl-gesin wat gesterf het nie. Teen Maart 1902 sterf haar boetie Hermanus Egbert en in Februarie sterf Hester Wilhelmina (wat waarskynlik Lizzie se suster was).

Kampe van die dood

Lizzie is in 1901 in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp oorlede. Die kampstelsel het tot die dood van nagenoeg 28 000 Boere gelei. Hiervan was nagenoeg 22 000 kinders. Daar is tydens en na die oorlog baie geskryf oor die haglike omstandighede in die kampe sowel as die hospitale waarin Boere behandel is. In die boek Stemme uit die Verlede word die ervaring van vroue in die oorlog oorgedra. Die een verduidelik: “Ons is banger vir die hospitale as vir die dood.” Nog ʼn persoon word skryf oor die kampe: “Dit het dikwels gebeur dat pasiënte wat slegs ʼn geringe siekte onder lede gehad het, met geweld van die protesterende moeder of familielede se tente weggehaal is om hospitaal toe vervoer te word. Ná ʼn paar dae is hulle meestal grafwaarts gedra.” ʼn Ander sê:Dit was eenvoudig ʼn wonderwerk as ʼn kindjie na die hospitaal gegaan en weer lewend uitgekom het.”