Maak 2017 ʼn opwindende jaar met dié dagboek

maak-2017-n-opwindende-jaar-met-die-dagboekHoe lyk jou dagboek? Is daar net hier en daar ʼn vergadering aangeteken saam met ʼn paar sketse wat getuig van ʼn vervelige vergadering waaruit jy net wou ontsnap? Vertel dit enigsins van al die borrelende idees en inspirerende planne waarmee jy in jou kop rondloop?Indien jou dagboek die gewone, vervelige trekke van meeste ander dagboeke het, is jou dagboek só laasjaar en benodig jy in 2017 Kraal Uitgewers se nuwe VANDAG-aktiwiteitsdagboek.

Dié onkonvensionele dagbeplanner/dagboek keer die hele idee van dagboeke, inskrywings en aantekeninge behoorlik op sy kop. Ja, dit voldoen steeds aan al jou behoeftes met ʼn jaarbeplanner, maandkalender en ʼn indeling van een bladsy per dag met uurindelings, maar VANDAG-aktiwiteitsdagboek is soveel meer as net ʼn dagboek. Dit is ʼn dagboek waarin die gebruiker elke dag uitgedaag word om ʼn unieke én opwindende aktiwiteit aan te pak.

Volgens Vian Roos, ʼn grafiese ontwerper van Pretoria wat die idee vir die dagboek geskep het, is die doel van VANDAG om die gebruiker aan te moedig om meer positief na die lewe te kyk. “Ons dae word dikwels gekenmerk deur die tragedies wat die wêreld tref, maar met dié dagboek hoop ek gebruikers sal eerder deur ʼn bril van positiwiteit na die wêreld kan kyk. Ons moet die tyd neem om anders oor die lewe te begin dink en dalk is 2017 net die jaar waarin jy dit kan regkry,” verduidelik Roos. “VANDAG sal jou nie noodwendig noop om die wêreld se grootste probleme op te los nie, maar eerder om met klein treetjies by jouself te begin, anders oor die lewe te dink, meer tyd saam met familie te spandeer en dalk weer die klein wonderwerke in jou dag raak te sien. Aan die einde van die jaar moet jy kan bieg: ‘Dit was ʼn lekker jaar.’”

Alana Bailey, die uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers en adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum is opgewonde oor dié dagboek en meen dat dit elke dag iets nuuts bied en ʼn goeie balans tussen eenvoudige en meer betekenisvolle aktiwiteite handhaaf. “Die VANDAG-aktiwiteitsdagboek is enig in sy soort. Gister moes jy dalk ʼn nuwe Afrikaanse Wikipedia-inskrywing maak en vandag weer iets laf doen soos om onpaar sokkies te dra. Wie weet wat môre sal bring?”

Wat bied die VANDAG-aktiwiteitsdagboek?

  • Dit bied 365 opwindende en opbouende aktiwiteite – een vir elke dag van die jaar.
  • Ideaal vir spanbou in jou werksplek én persoonlike ontwikkeling.
  • Tientalle positiewe aktiwiteite wat die waardes en projekte van die Solidariteit Beweging by die gebruiker tuisbring en daarby betrek.
  • Bondige A5-formaat (een bladsy per dag) met genoegsame spasie vir notas en dagboekbeplanning.

As jy dus kans sien om in 2017 dag vir dag die wêreld te verander, gordel vas en bestel jou eksemplaar vandag nog. VANDAG is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Kontak Kraal Uitgewers by kraal@kraaluitgewers.co.za of 012 644 4329 vir meer inligting of om ʼn bestelling te plaas of kliek hier.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!