Magersfontein, o Magersfontein

Donderdag 28 Junie 2018 (Dag 6)
Roete: Jacobsdal tot Magersfontein-oorlogsmuseum
Afstand: 25,6 km

Vrydag 29 Junie 2018 (Dag 7)
Roete: Magersfontein-oorlogsmuseum (rusdag)
Afstand: – (rusdag)

Magersfontein, o Magersfontein

Op Donderdag 28 Junie het die ruiters van Herdenkingsritte 2018 die Vrystaatse vlaktes agtergelaat, die grens na die Noord-Kaap oorgesteek en die legendariese Magersfontein bereik. Dié terrein het een van die taaiste en grootste Boereoorwinnings van die Anglo-Boereoorlog, wat op 11 Desember 1899 hier afgespeel het, aanskou.

Die Boere het ’n oortuigende oorwinning by Magersfontein behaal en hoewel teenstrydige gegewens oor die Britse verliese bestaan, gee die amptelike bron History of the war in South

Africa die getal aan as 948 gedood en gewond. Generaal Piet Cronjé was egter van mening dat die Britse verliese aan dooies en gewondes meer was. Aan Boerekant het 71 man gesneuwel, terwyl 168 gewond en 21 deur die Britte gevange geneem is. Die meerderheid van die gesneuweldes van die Wes-Transvaalse en Vrystaatse kommando’s is op Jacobsdal begrawe waar dominee J.W.G. Strasheim van Klerksdorp die teraardebestelling waargeneem het. Hy het saam met burgers ná die slag op die slagveld rondbeweeg op soek na dooies en gewondes.

Vandag nog bied dié slagveldterrein verskeie aanskoulike bakens, insluitende grafte, gedenktekens, ’n museum en monumente, vir toeriste. Volgens die historikus dr. Jackie Grobler is die terrein sowat 34 km suid van Kimberley geleë en is bereikbaar vanaf die N12 wat na Kimberley lei. (Neem die gemerkte grondpad vanaf die snelweg, ry 6 km tot by die Magersfontein-slagveld.) Die toegangsroete tot die terrein volg deur die middel van die oorspronklike slagveld. Oos van die pad is Britse grafte, ’n burgermonument en Boeregrafstene sigbaar. Die museum en ander monumente is wes van die pad geleë. Daarbenewens is die Boere se loopgrawe steeds sigbaar aan die voet van die Magersfontein-koppies.

Die Britse nederlaag by Magersfontein was ’n groot terugslag vir die Britte. Hieroor skryf die historikus Pieter de Jager soos volg in sy boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902:

Die eerste Britse offensief het misluk en heelwat Kapenaars wat die Boeresaak simpatiek gesind was, het ná die Boere se oorwinning by Magersfontein by die Boerekommando’s aangesluit […] Die Britse neerlae by Magersfontein, Colenso en Stormberg het by die Britte as “Black Week” bekendgestaan. Die reaksie op die drie groot nederlae in een week was een van vernedering en kommer dat ’n klomp veragte plaasboere die magtige Brittanje se aansien so ’n ernstige knou kon gee. Die Kersfees van 1899 het die Britse volk in sombere stemming gevier. Die Britse skrywer Arthur Conan Doyle wat tydens die oorlog as medikus in Suid-Afrika diens gedoen het, skryf hieroor: “The week extending from December 10 to December 17, 1899, was the blackest one during our generation and the most disastrous for British arms during the century.”

Aan Boerekant is God se hand in die reeks oorwinnings gesien en op versoek van generaal Botha is 17 Desember 1899 as ’n algemene dankdag bepaal. Dit was ook ’n geleentheid om God om verdere seën vir die oorlog te smeek.

Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 is pas by Kraal Uitgewers bekendgestel. Dit bevat onder meer ook ’n volledige beskrywing van die Slag van Magersfontein. Klik hier vir meer inligting oor dié boek.


Volg die ruiters se vordering en herontdek saam met dié span die ryke geskiedenis van die gebied. Klik hier vir meer inligting oor dié rit. Bly op hoogte van gebeure by www.kraaluitgewers.co.za of op die groep se Facebook-blad @Herdenkingsritte. Kraal Uitgewers en AfriForum is trotse borge van vanjaar se rit.

Klik hier vir meer inligting oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 of om die boek aanlyn te bestel.

Let asseblief dat bestellings via die SA Poskantoor gestuur tans vertraag word as gevolg van 'n staking Dismiss