Monumente vir diere

Daar word gereeld meer vertel oor die monumente wat gebeure en helde in ons geskiedenis herdenk. Minder bekend, maar net so aangrypend, is die monumente vir diere wat ʼn besondere rol in ons geskiedenis gespeel het.

monumente-vir-diere-01
[Foto: Wikipedia.]
Een van die bekendstes is die Perdemonument in Port Elizabeth. Dit is opgerig deur die inwoners van die stad om die rol van perde in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te gedenk. Aan die Britse kant alleen het meer as 300 000 perde tydens die oorlog omgekom.

Tydens die oorlog is diere is van oor die wêreld ingevoer – selfs uit die VSA. Die monument is deur Joseph Whitehead ontwerp en in 1905 onthul.

 

monumente-vir-diere-02
[Foto: www.southafrica.net.]
Minder bekend, maar ewe aangrypend, is die donkiemonument in Upington. Dit is te sien voor die Kalahari-Oranjemuseum en herdenk die rol van donkies in die vroeë ontwikkeling van die Benede-Oranjeriviervallei. Vandag is hierdie gebied bekend as een van die land se vernaamste vrugteproduserende streke. In 1929, tydens die Depressie en Groot Droogte, het die regering besluit om Boegoebergdam 120 kilometer suid-wes van Upington vir besproeiingsdoeleindes te bou. Sowat 350 bouers het die dam in uiterste weerstoestande gebou.  Dagtemperature was dikwels meer as 40 grade. Soms het hulle selfs snags in die lig van olielampe gewerk. Hulle is getrou bygestaan deur spanne donkies – net een voorbeeld van die pioniersrol wat dié geduldige diere in ons geskiedenis gespeel het.

 

monumente-vir-diere-03
[Foto: Alana Bailey, 2011.]
’n Monumentjie wat ’n mens maklik miskyk, is in Stellenbosch te sien. Dit beeld ’n kat uit en is skynbaar opgerig ter ere van katte wat ’n muisplaag in die dorp onder beheer gebring het.

Lesers wat meer weet omtrent die storie agter die standbeeldjie, kan ons gerus laat weet.