ʼn Bittere vrede word gesluit

Die maand, Mei 1902, is een van die merkwaardigste tye in Suid-Afrika se geskiedenis, want dit was juis toe dat daar, ná byna twee jaar se uitmergelende oorlog tussen Boer en Brit, teen die bittereinde besluit is om samesprekings vir die sluiting van ʼn vredesooreenkoms te voer.

Hoewel talle Boere in dié stadium nog nie bereid was om die stryd gewonne te gee nie, was daar dié wat geglo het die tyd vir vrede het aangebreek.

Die woorde van Generaal Jan Smuts op 29 Mei 1902 by die Tent van Samekoms in Vereeniging som die emosie van die Boere treffend op. Hier het hy aan die Boere wat byeengekom het vir die vredesonderhandelinge die volgende bemoedigende woorde gehad. Hy het gesê:

Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir ’n ieder van ons sou die dood ’n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Maar ons buk voor Gods wil. Die toekoms is duister; maar ons sal die moed, die hoop, die vertroue op God nie prysgee nie.

Dit was hier by die Tent van Samekoms dat 60 Boereleiers op 15 Mei 1902 byeengekom het om die kwessie van ʼn vredesooreenkoms te bespreek. Die vraag was eenvoudig – die antwoord nie.

Hier moes hulle besluit of hulle volgens die vredestraktaat “ja” of “nee” sou stem – die besluit waardeur die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke uiteindelik ingeboet sou kon word. Die kern van dít waarvoor die Boere reeds jare lank geveg het, het nou finaal in gedrang gekom en die keuse bemoeilik.

Tydens die vergadering het elke verteenwoordiger van die verskillende streke die geleentheid gekry om die situasie in sy streek te bespreek. Hulle bespreek selfs die moontlikheid om net ʼn deel van die republieke, naamlik die Witwatersrand, af te staan sodat die res van die republieke steeds in vrede kon voortgaan. Dit was tog juis waarna die Britte op soek was. Dan was daar ook die vraag oor die voortbestaan van die volk in die omstandighede wat nou voorlê. En wat van die volk se taal? Sou dit kon oorleef onder die druk van Engels?

Teen 19 Mei 1902 begin die onderhandelinge tussen Boer en Brit. Aan die boerekant sit generaals Louis Botha, Koos de la Rey, J.B.M. Hertzog en Jan Smuts en aan die kant van die Britte Milner en Kitchener.

Dan teen 21 Mei word ʼn konsepooreenkoms opgestel en op 28 Mei word die finale weergawe vanaf Londen ontvang. Nou het die Boere net tot die einde van Mei om die voorstelle te aanvaar of te verwerp. So word daar uiteindelik met ʼn swaar gemoed op 31 Mei 1902 net na 11:00 die aand uiteindelik ʼn vredesooreenkoms in Pretoria in Kitchener se hoofkwartier, die Melrose-huis, onderteken.

Volgens die ooreenkoms het die Boere onder meer ooreengekom om die Britse monarg as wettige heerser te erken, dat die Boere hul besittings kon behou en dat Nederlands in die Transvaal en Vrystaat as vak onderrig sou kon word as ouers dit so wou hê.

Die geskiedkundige tydperk in Mei 1902 het die einde van ʼn era vir die Boere beteken en ʼn tydperk wat vol onsekerheid was, ingelui.

Vandag is die Melrose Huis in Jacob Mareestraat in Pretoria ʼn nasionale gedenkwaardigheid. In die vertrek waar die ooreenkoms onderteken is, hang daar ʼn stilte en besoekers kan byna die grootsheid van die besluit wat hier geneem is aanvoel; ʼn besluit wat die geskiedenis van ons land onherroeplik verander het en die volk in ʼn nuwe rigting gestuur het.