ʼn Laken, tennistekkies en die ontsnapping

ʼn Laken, tennistekkies en die ontsnapping

Daar is iets omtrent persone wat uitsonderlike waagmoed aan die dag lê, wat die mens nog altyd verstom kon laat. Indien hierdie waagmoed vermeng word met ʼn sterk strewe na vryheid, is die kombinasie dít waarvan legendes gemaak word. Die verhaal van Johnny de Villiers is egter nie ʼn verdigsel van legende-praatjies nie, maar ʼn inspirerende verhaal van een man se versugting om weer vry te wees.

De Villiers se ontsnapping uit ʼn Britse krygsgevangenekamp in Trichinopoly, Indië gedurende die Anglo-Boereoorlog in 1901 word beskou as een van die merkwaardigste ontsnappings gedurende dié oorlog. Hoewel mense vandag nog veel eerder die ontsnapping van die latere Britse premier Winston Churchill en sy swemtog deur die “mighty Apies River” onthou, is die ontsnapping van De Villiers aan die Boerekant van veel groter belang aangesien hy die enigste krygsgevangene was wat daarin kon slaag om suksesvol uit Trichinopoly te ontsnap.

Jan Louw (Johnny) de Villiers is in 1871 in die Paarl gebore. Nadat hy sy  skoolopleiding aan die Gimnasium Jongenskool voltooi, sit hy sy studies in Brittanje voort en bekwaam homself as ʼn siviele ingenieur. Hy begin later as ingenieur in Pretoria werk en met die uitbreking van die Anglo-Boereoorlog in 1899 sluit hy by die Boeremagte as offisier aan. Hy word egter op 24 April 1901 naby Pietersburg gevange geneem. Op 4 Julie dieselfde jaar arriveer hy en nagenoeg 500 ander Boerekrygsgevangenes in Madras, Indië. Hiervandaan word die gevangenes per trein na die krygsgevangenekamp Trichinopoly, sowat 340 km van Madras, vervoer.

In hierdie kamp op die uitgestrekte vlakte het droë en warm stofwinde gewoed. Boonop was water skaars. In sy boek oor sy ontsnapping uit dié kamp Hoe ik ontsnapte (oorspronklik in 1903 uitgereik), skryf De Villiers soos volg oor die omstandighede in die kamp: “Die meeste van ons was gewoon aan die vryheid van die veld en kon maar net nie aan hierdie soort lewe gewoond raak nie . . . Nadat ons ʼn paar maande in die kamp vertoef het, het ʼn paar van die burgers met meer ondernemingsgees begin om planne te beraam om uit die gevangeneskap met al sy onaangenaamhede te ontsnap.”

In ʼn navorsingsartikel in die geskiedenistydskrif Pretoriana (1999, uitgawe 112) beskryf Anton Pelser van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum De Villiers se planne en uiteindelike ontsnapping in detail. Volgens Pelser was ontsnapping uit Trichinopoly byna onmoontlik aangesien ʼn dubbele draadomheining om die kamp gespan was. Tussen die twee heinings was boonop turksvy- en doringtakke gepak. Dag en nag is die grense bewaak deur gewapende wagte. Plaaslike inwoners is ʼn beloning van 50 rupees aangebied vir enige inligting wat met ontsnapte krygsgevangenes verband hou.

De Villiers het hom egter nie hierdeur laat afskrik nie en maande lank planne beraam om te ontsnap. Hy besluit uiteindelik om homself as ʼn Indiër te vermom en saam met Indiër wat in ʼn winkel in die kamp gewerk het, die kamp aan die einde van ʼn dag te verlaat. Hiervoor moes hy ʼn tulband (ʼn wit kopdoek) bekom. Dié het hy by een van die werkers gekoop en voorgegee dat hy dit as ʼn laken sou gebruik. Hy het nie geweet hoe om die kopdoek te draai nie en het ook raad by ʼn werker gevra – vir hom het hy vertel dat hy dit in ʼn toneelopvoering sou gebruik. ’n Lang wit baadjie (kenmerkend van die kleredrag van plaaslike mense in dié omgewing) is ook deur een van die werkers aangekoop. Om sy uitrusting af te rond het hy die punte van ’n paar wit tennistekkies afgesny. Na verskeie probeerslae met onder meer ink het De Villiers besef dat gebrande kurk die geskikte kleurstof vir sy vel was.

Op 10 Maart 1902 breek die groot dag aan. Sy bokbaard is afgeskeer om plek te maak vir die tipiese Indiër-snorretjie. Teen omstreeks halfsewe die aand het hy die oskar waarmee die werkers in en uit die kamp beweeg, ingewag en byna ongesiens aan die kant van die wa vasgegryp en na vryheid gery. Kort buite die kamp het hy sy eie koers ingeslaan en na vele ontberings die Franse gebied van Pondicherry bereik. Ná bykans ses weke kon hy aan boord van ʼn Noorse skip na Marseille vertrek – ʼn reis waartydens hy ook by ʼn ankerplek steeds van Britte versteek moes word.

Hy keer egter eers ná die einde van die oorlog op 2 Desember 1902 terug na Suid-Afrika en vestig hom weer op sy geboortedorp (Paarl) waar hy as ingenieur werk. Hy is nooit getroud nie en sterf in 1910 in die ouderdom van 39 jaar aan tering. Hy word langs sy broer Lammie (wat in die oorlog gesterf het) begrawe.

Volgens mediaberigte is die kostuum wat De Villiers as vermomming gedra het, jare later saam met verskeie ander foto’s en dokumente aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein geskenk.

Pelser sluit sy studie oor De Villiers met dié treffende woorde af: “Dit (De Villiers se verhaal) is ʼn uitstekende voorbeeld van die mens se drang na vryheid en wat hy alles sal probeer en deurmaak om dit terug te kry.”