ʼn Naam wat iets beteken

Deur Ilze Nieuwoudt

Soos met enige land wat drastiese regeringsveranderinge ondergaan, het Suid-Afrika ook in die afgelope bykans 20 jaar verskeie veranderinge van plekname beleef. Plekname het in byna alle gevalle ʼn unieke verhaal wat daarmee saamgaan en dit is juis hierdie telkens geskiedkundige waarde wat met groot hartseer en woede opgeoffer word.

Ten spyte van die historiese waarde en betekenis aan plekname, veg Suid-Afrikaners vir die behoud van ʼn naam sonder om die “storie” agter die naam te ken en te waardeer. Hier is ʼn paar interessante plekke met selfs meer interessante stories.

Mier

Die Mier-munisipaliteit in die Kalahari se naam het, in teenstelling met eerste indrukke daarvan, niks met miere te make nie. Hierdie streek, wat onder meer die dorpe van Keimoes, Kakamas en Upington insluit, se naam se oorsprong kom eerder van die woord “mere”. Dit kom nadat Duitse sendelinge wat die area lank gelede besoek het talle waterpanne hier gevind het en dit “mere” genoem het. Plaaslike inwoners het dit later eerder as “mier” uitgespreek.

Potchefstroom

Hoewel daar nie enigheid is oor die presiese oorsprong van die naam Potchefstroom nie, reken kenners egter dat dit ʼn onbetwisbare verbintenis met die Andries Potgieter, die stigter van die dorp, het. Aanhangers van die teorie meen dat die “chef” verwys na leier en dat die woord “stroom” na die Mooirivier verwys. Ander meen egter dat die naam afkomstig is van die woord “potscherf” wat verwys die krake in die grond van die Mooiriviervallei wat soos potskerwe lyk. Sommige glo ook dat die naam oorspronklik Potgieterstroom was en later vervorm is tot Potgerstroom en uiteindelik Potchefstroom.

Swellendam

Hierdie dorp in die Langeberge van die Wes-Kaap het sy naam in 1745 gekry en is gevorm uit ʼn samestelling van twee name. Dit is afkomstig van die naam van die destydse goewerneur Hendrik Swellenggrebel en sy vrou Helena ten Damme.

Zeerust

Die naam is ʼn verkorting van die oorspronklike naam Coetzee-Rust en is afkomstig van die naam Diederik Coetzee. Coetzee was die eienaar van die oorspronklike plaas waarop Zeerust uiteindelik ontstaan het.

Treur- en Blyderivier

Hierdie twee riviere vloei in die wêreld se derde grootste vallei, naamlik die Blyderiviervallei, en by die punt waar die twee riviere in mekaar vloei, vind ʼn mens die Bourke’s Luck-kolkgate. Die oorsprong van hierdie riviere se name is baie interessant. Volgens oorlewering het die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter en sy geselskap in 1844 in die area getrek. As deel van ʼn ontdekkingstog waarin hy en ʼn paar makkers gehoop het om kontak te maak met die Portugese in Lourenço Marques, het hy die trekgeselskap by ʼn onbekende rivier laat oorstaan. Toe die mans nie op die verwagte datum van hul tog terugkeer nie, het die trekkers die ergste vermoed en geglo dat Potgieter en sy manne nie die tog oorleef het nie. Hulle het die rivier waarby hulle kamp was toepaslik die Treurrivier genoem en weswaarts getrek. ʼn Paar dae later het Pogieter-hulle egter ongeskaad die trekkers ingehaal en daar is besluit om die rivier waarlangs hulle toe getrek het die Blyderivier te doop.

Wat noem jy dit?

Plekname kan ook in die volksmond aangepas word. Telkens laat dit mense in die duister oor na watter dorp of streek daar verwys word. Hier is ʼn paar van die bekendste voorbeelde van name wat in die daaglikse gebruik aangepas is:

  • Berg met verwysing na die Drakensberg. Daar kan ook gepraat word van byvoorbeeld die Sentrale Berg.
  • Bloem met verwysing na Bloemfontein.
  • Harties met verwysing na Hartbeespoort.
  • J-Bay met verwysing na Jeffreysbaai.
  • Jakarandastad met verwysing na Pretoria.
  • Die Baai of PE met verwysing na Port Elizabeth.
  • Bos of die Eikestad met verwysing na Stellenbosch.
  • Potties met verwysing na die eertydse Potgietersrus (die naam is intussen verander na Mokopane)
  • Toti, “The deep South” of selfs Amanzimtexas word gebruik wanneer daar na Amanzimtoti verwys word.

Die pad na Verdwaalfontein…

Of ʼn mens dit wil aanvaar of nie, feit bly dat daar reeds tientalle plekname in Suid-Afrika verander het (en waarskynlik in die toekoms ook sal verander). Hierdie veranderinge maak talle Suid-Afrikaners behoorlik die josie in en in baie gevalle word daar nou verwarring geskep oor watter nuwe name nou na watter dorp verwys.

Hier is ʼn paar bekende en soms minder bekende voorbeelde van name wat reeds verander het:

  • Duiwelskloof in Mpumalanga is verander na Modjadjiskloof.
  • Ellisras in Limpopo is verander na Lephalale.
  • Louis Trichardt in Limpopo is nou Makhado.
  • Messina in Limpopo is nou Musina.
  • Nylstroom in Limpopo is verander na Modimolle.
  • Die Treurrivier in Mpumalanga is verander na die Sefoganerivier.