Nóg ʼn vrou kry eervolle plek in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing

Die plek van die vrou in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing was nog altyd in ʼn groot mate misken, maar dit is spoedig besig om te verander. Die bekendstelling dié Vrouemaand van ’n biografie oor die lewe van Nonnie de la Rey, eggenote van die befaamde Boeregeneraal Koos de la Rey, beklemtoon dié verskuiwing.

Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 (Kraal Uitgewers), uit die pen van Zelda Rowan en met die bekende geskiedkundige Fransjohan Pretorius as redakteur, werp waardevolle nuwe lig op die rol van die vrou tydens die Anglo-Boereoorlog. Die boek is die afgelope week tydens ʼn funksie in die historiese Fort Schanskop in Pretoria bekendgestel.

Volgens Pretorius, reeksredakteur van die nuwe Kraal Histories-reeks, is die plek van die vrou in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing tans nie baie gesond nie. Hy beklemtoon egter dat hoewel boeke soos dié ʼn belangrike bydrae tot die geskiedskrywing maak, die doel hiervan nie is om die rol van die man in die Anglo-Boereoorlog uit te skryf nie. “Vroue was die rigsnoer van die verset teen Britse imperialisme en was in kombinasie met die mans ʼn gedugte span in die Anglo-Boereoorlog.”

Nonnie de la Rey se verhaal vertel van ʼn minder bekende sy van die vrou in dié oorlog, aangesien sy, haar kinders en enkele bediendes vir 18 maande lank in die veld rondgeswerf het om sodoende uit die hande van die Britte en die konsentrasiekampe te bly. Haar ervarings het danksy haar herinneringskrifte behoue gebly en is ʼn belangrike historiese bron om die ervarings van vroue buite die konsentrasiekampe van die oorlog te verstaan.

Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R220 (posgeld uitgesluit). Kontak die uitgewer by 012 644 4329 of stuur ʼn e-pos na kraal@kraaluitgewers.co.za vir meer inligting of om die boek te bestel.