Nonnie de la Rey: Die ystervrou agter die generaal

Pioniersvrou. Eggenote. Moeder. Opponent van Britse imperialisme. Volksmoeder. Dit is wie Nonnie de la Rey was. Dít en soveel meer. Sy was bekend as die vrou van die Boeregeneraal Koos de la Rey, maar in haar leeftyd sou Jacoba Elizabeth de la Rey (gebore Greeff) bewys dat sy veel meer as ’n blote verlengstuk van haar man was. Haar lewe sou ook toon dat die vrou se betrokkenheid by die bittere Anglo-Boereoorlog nie net tot die smart en lyding in die konsentrasiekampe beperk was nie. ʼn Biografie oor Nonnie de la Rey se lewe word eerskomende Dinsdag (23 Augustus) in Pretoria aangebied en die publiek word uitgenooi om dié geleentheid by te woon.

Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 (deur Zelda Rowan) volg die voetspore van een van die merkwaardigste vroue in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit vertel die verhaal van die eerste pioniers in die Wes-Transvaal, werp lig op Nonnie en Koos se nederige beginjare en die gesin se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog.

Dit is egter Nonnie se besluit om tydens die oorlog met haar kinders in die veld te swerf, om sodoende uit die hande van die Britte en die konsentrasiekampe te bly, wat haar lewe des te meer opspraakwekkend maak. As voortvlugtendes sou sy en haar kinders uiteindelik 18 maande lank ’n tuiste in die veld vind.

Ervarings wat tot die unieke tapisserie van Nonnie se lewe bydra, is haar kennismaking met waarskynlik haar man se grootste vyand, lord Methuen, haar en haar man se besoek aan Europa in 1902 en die heropbou van hul geliefde plaas Elandsfontein nadat dit as deel van die verskroeideaardebeleid in die oorlog verwoes is.

Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 is die eerste publikasie in Kraal Uitgewers se Kraal Histories-reeks. Vir meer inligting of om jou eksemplaar te bestel klik hier.

BEKENDSTELLING: Die bekendstelling van dié boek vind plaas op 23 Augustus by die Manschappensaal in Fort Schanskop op die Voortrekkermonumentterrein in Pretoria. Die publiek is welkom om die geleentheid by te woon waartydens Alana Bailey in gesprek met die skrywer Zelda Rowan en reeksredakteur Fransjohan Pretorius sal wees. Bevestig bywoning by ilze@kraaluitgewers.co.za voor of op 19 Augustus. Beperkte plek beskikbaar.