NUUT op Kraal Afgestof: Christiaan de Wet: ’n Lewensbeskrywing

In sy boek Christiaan de Wet: ’n Lewensbeskrywing vertel ds. J.D. Kestell die verhaal van een van die mees geliefde Boeregeneraals in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dié boek het die eerste keer in 1920 by De Nationale Pers verskyn.

Dit is juis so uitsonderlik omdat dit in De Wet se leeftyd, met die generaal se medewerking, geskryf is. Kestell het geen moeite ontsien om alle beskikbare bronne oor De Wet in te samel en na te gaan nie.

Hy skryf onder meer in die voorwoord tot dié boek:

“Onskatbaar was veel wat ek uit die mond van generaal De Wet gehoor het gedurende die oorlog, en, veral, op ’n lang besoek wat ek, enige maande gelede, aan hom op sy plaas gebring het, met die oog op die versameling van stof vir hierdie werk. Wat hy my meegedeel het, het ek sorgvuldig gekollasioneer en vergelyk met wat ek uit ander bronne kon put.”

Hoewel dié lewensbeskrywing nagenoeg twee jaar vóór die generaal se dood in 1922 verskyn het, is dit steeds ’n bron van onskatbare waarde oor De Wet se veelbesproke lewe en word dié boek as waardevolle Africana beskou.

Christiaan de Wet: ’n Lewensbeskrywing is nou gratis as ’n PDF-lêer beskikbaar op Kraal Afgestof. Herontdek die lewe van dié Boeregeneraal soos sorgvuldig opgeteken deur Kestell. Klik hier om dié boek af te laai.

Wie was dié Boeregeneraal?

Christiaan de Wet is op 7 Oktober 1854 op die plaas Leeuwkop in die Smithfield-distrik gebore. Hy is op 19-jarige ouderdom met Cornelia Kruger getroud – ’n huwelik waaruit 16 kinders gebore is.

In 1880 en 1881 neem hy aan die Eerste Vryheidsoorlog deel, maar word veral onthou vir sy deelname aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). De Wet het hom vroeg in die oorlog al as uitmuntende leier onderskei, maar dit was juis tydens die latere guerrillaoorlogvoering waarin hy tot sy volle reg gekom het.

In 1914 neem hy die wapen op teen die Suid-Afrikaanse Unieregering as deel van ’n Afrikanerrebellie. Hy is gevange geneem en aan hoogverraad skuldig bevind, waarvoor hy ’n groot boete én tronkstraf van ses jaar opgelê is.

Aan die einde van sy lewe gaan woon dié geliefde Boeregeneraal op die plaas Klipfontein buite Dewetsdorp, en sterf daar op 3 Februarie 1922.