Nuut op Kraal Uitgewers se boekrak: Briewe van die tandemuis

Haasbekkies word genooi om saam met Kardoemsie, die tandemuis, op ’n verbeeldingsvlug te gaan in Kraal Uitgewers se eerste kinderboek Briewe van die tandemuis (deur Michelle van der Merwe, met illustrasies deur Carina van Zyl). Briewe van die tandemuis is deel van die uitgewer se nuwe Kraal Kleinspan-reeks. Dié reeks boeke word deur plaaslike skrywers en illustreerders saamgestel om ’n eg Suid-Afrikaanse én Afrikaanse produk aan jong lesers te bied.

Met elke tandjie wat die sesjarige Anneke vir Kardoemsie los, ontvang sy ’n briefie oor al sy avonture. Sy vind uit van Kardoemsie se aanstelling as die amptelike tandemuis, leer ken die lagwekkende oomblikke wat Kardoemsie met sy vrou en 23 kinders deel en kry selfs raad oor hoe om haar tandjies pêrelblink te borsel. Ontmoet die skattige én slinkse karakters wat rondskarrel op Anneke-hulle se werf en wandel saam met Lisa die hond, Generaal Streepstert, Kaptein Pokkels en al die ander karakters in ’n wonderwêreld waar fantasie nog saam met Koning Kaspersie kan koning kraai.

Die boekie bestaan uit tien prettige stories, elk met kleurvolle waterverfillustrasies en is hier in Kraal se e-winkel beskikbaar teen slegs R180.

Klik hier vir meer inligting oor die boek én oor hoe om vir die Haasbekkie-fotokompetisie in te skryf.