Nuwe erfenistydskrif betower

Terwyl die Covid 19-pandemie sy tande in Suid-Afrika inslaan, klink reise na erfenisterreine soos iets uit ’n feëverhaal. Die Erfenisstigting (ES) het egter ’n alternatiewe plan beraam om die geskiedenis weer binne bereik van geskiedenisliefhebbers te bring – sommer tot op die bedkassie, lessenaar of rusbank. Die eerste uitgawe van die Stigting se nuwe elektroniese tydskrif Ons Erfenis het pas verskyn en staan onder redaksie van Riana Mulder, bestuurder van die Erfenisstigting se museumversameling.

Volgens Mulder spruit die idee vir ’n tweetalige erfenistydskrif uit die aanlyn tydskrif Archaeology Magazine. “Ek kon nie glo hoe interessant, kleurvol en lewendig hulle die geskiedenis uitbeeld nie,” skryf Mulder in haar redakteursbrief. “Ek het dus vir ’n paar kollegas gevra om vir ons van hulle werk te vertel, sodat ons mense kan sien dat geskiedenis nie ’n dooie ding is waarvan ons gerieflikheidshalwe kan vergeet wanneer dit ons pas nie: dis ’n lewendige en integrale deel van ons identiteit, ons kultuur en ons toekoms.”

Ons Erfenis se eerste uitgawe bevat 15 artikels, onder meer oor terreine wat deur die Erfenisstigting bewaar word, dorpsgeskiedenisse, die Anglo-Boereoorlog, nuus uit die argief van die Nederduits Hervormde Kerk (wat in die Erfenisstigting-gebou gehuisves word) en museumnuus. Elke artikel bevat verskeie kleurvolle foto’s en illustrasies en bied op dié manier die geskiedenis aan deur ware, lewendige en kleurvolle verhale. Die artikels is geskryf deur verskeie vooraanstaande historici en erfenisdeskundiges, insluitende Cecilia Kruger, prof. Anton van Vollenhoven en Nandor Sarkady.

Die tydskrif sal drie keer per jaar verskyn. Lees die eerste uitgawe hier